Die broers Zane (47) en Marlon (41) Cleophas het onlangs saam gegradueer.


Van saam speel tot saam werk, en nou ook saam graad vang.

Dit blyk Zane (47) en Marlon (41) Cleophas het min dinge nie saam aangepak nie. Dié broers het vandeesmaand onderskeidelik ’n meestersgraad in kriminologie en sekuriteitsbestuur en ’n honneursgraad in besigheid van die Universiteit van Suid-Afrika ontvang.

“Dit is wonderlik, veral as jy in ag neem albei het gesinne en hulle werk,” meen die seuns se ma, Alice, van Hopefield.

Sy sê haar seuns en haar dogter, ’n onderwyseres in Saldanha, was nog altyd akademies aangelê.

Volgens die twee broers kom hul skerp brein van hul ouers, hoewel Alice spot sy het ’n skerp mond ook.

Pa Peter was vir jare in die lugmag en Alice het verskillende werke gehad. Die seuns se liefde vir studie kom dalk van Alice, wat as volwassene self vele kursusse voltooi het.

“Die nagte se opsit met studies is nou alles die moeite werd en ons is opgewonde vir die toekoms van hul sakeonderneming ook,” meen Peter.

Saam het Zane en Marlon ’n onderneming, Areta Holdings, wat spesialiseer in tegnologiese sekuriteit. Die maatskappy is in Langebaan gebaseer, waar dié twee woon.

Dit blyk egter die broers is nie meer so gesinkroniseer wat hul studies betref nie, want hoewel Zane kans sien om sy doktorsgraad te voltooi, lyk dit nie of sy broer verdere studies saam met hom gaan aanpak nie. “Marlon sê hy is vir eers te moeg,” lag Alice.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article