“Klipgooiery is ’n ou taktiek van rowers wat al jare lank spora­dies opvlam oor die land heen.”

Dit is Gerrie Pieterse, voorsitter van die Weskus-motorfietsvereniging (WMA), se reaksie op ’n voorval verlede week waarin ’n motorfietsryer wat onderdeur die brug na Hopefield op die R27 gery het, met halwe bakstene bestook is. Een het die motorfietsryer op die arm getref.

In die Weskus-omgewing is motorfietsryers en motoriste tot met die voorval verlede week nog dié soort aanvalle gespaar. In die Kaap het die motorfiets­ryers al memorandums aan die polisie oorhandig en groter polisieteenwoordigheid by verskeie geïdentifiseerde brandpunte gevra, waar motorfietsryers en motoriste gereeld met enigiets van groot klippe tot spanspekke gegooi word. Dit sluit veral die R300 in.

Volgens Pieterse is motorfietsryers blootgestel aan erge potensiële beserings en kan hulle maklik beheer verloor wanneer iets hulle tref – teen enige spoed. “Die moontlikheid van ’n ongeluk is groot met nie net skade aan die voertuig nie, maar ook persoonlike beserings.”

Die tendens wys dat brûe ’n gunsteling is vir misdadigers om weg te kruip en vinnig te kan wegkom. ’n Ander gevaarpunt is oorgange waar voertuie stadiger beweeg en so ’n makliker teiken word.

Die hoofdoel agter die aanvalle is juis om ’n ongeluk te veroorsaak ten einde die motorfietsryer te beroof, ten spyte van die feit dat dit lewensverlies kan veroorsaak.

Dieselfde geld vir motoriste wat stilhou om die skade aan ’n voorruit te bekyk of selfs net nie verder kan ry nie omdat die voorruit te erg beskadig is.

Die enigste raad wat Pieterse vir Weskus-motorfietsryers het, is om waaksaam te wees en in groepe rond te beweeg. “Ongelukkig word alleenryers uitgesonder, want dit maak ’n rooftog makliker en veiliger vir die aanvaller.”

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, benadruk dat enige voorval waarin klippe na voertuie gegooi is, onmiddellik by die naaste polisiekantoor aangemeld moet word.

“Dit sal help om ’n tendens te bepaal en moontlik polisiëring te verhoog waar nodig. Dit sluit ook die aanmeld van verdagte mense wat onder en op brûe rondstaan, in.”

Motorfietsryers en motoriste word afgeraai om self stil te hou om ondersoek in te stel omdat dit hulle aan gewapende aanvallers blootstel.

Pieterse maan mense wat meen hulle is in staat om die situasie self te “beredder”, om dit nie te doen nie, al voel hulle gefrustreerd. Hulle moet eerder die wet volg.

“Geniet die rit, maar bly op jou hoede waar jy ook al ry.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article