“Moenie bang wees om oor jou bure te kla wat tot laatnag harde musiek speel en ander mense nie in ag neem nie.”
Só sê sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van Darling-polisie.
Filander vertel hy het hom verlede Sondagoggend 9 Oktober om 05:00 vererg toe hy opmerk dat sommige huishoudings op die dorp blykbaar deurnag partytjie gehou het en dat die musiek steeds oorverdowend luid uit hul huise blêr.
“Jy het geen respek vir jou medemens as jy so optree nie,” het Filander gesê.
“Dit gebeur dikwels dat rusverstoringklagtes hand aan hand gaan met klagtes van huisbraak en diefstal omdat mense weens die harde musiek nie kan hoor wanneer daar ingebreek of gesteel word by hul huise nie.”
Filander nooi die gemeenskap om klagtes teen rusverstoorders by die polisiekantoor te kom indien.
Hy sê dit is ’n algemeen aanvaarde mite dan iemand geraas mag maak tot 22:00 op ’n weeksaand en 00:00 op ’n naweek. Tog is baie mense volgens hom tegemoetkomend en sal die bure se harde musiek, veral as dit ’n uitsondering is, verduur tot ’n sekere tyd van die nag. Maar dis veral wanneer mense in die vroeë oggendure nog nie aan die slaap kon raak weens die geraas nie dat ongelukkigheid opduik.
Maar inwoners hoef nie rusverstoring te verdra omdat dit voor 00:00 in die aand is nie. In werklikheid fokus munisipale verordeninge wat aanvaarbare geraasvlakke bepaal meer op die aantal desibels wat gelewer word, eerder as die werklike tydsraamwerk waarin die geraas gemaak word.
Die Wet op Omgewingsbewaring en munisipale verordeninge beskerm Suid-Afrikaanse burgers teen ondraaglike geraasbesoedeling.
Die regulasies definieer geraasbesoedeling as enige klank wat die gerief of vrede van mense versteur of benadeel en sewe desibel of meer oorskry. Hierdie vlak van geraas is te alle tye onwettig.
“Ons weet mense is soms bang om klagtes teen hul bure in te dien, want as daardie spesifieke oortreder weer dronk is, dan word die onskuldige mense wat gekla het, geïntimideer of geteister. Maar ons wil hierdie gewoonteoortreders in hegtenis neem en voor die hof bring.
“Rusversteuring word as ’n ernstige misdryf beskou juis omdat dit ’n geleentheid vir misdadigers skep om hul onderduimse dinge te doen sonder dat iemand hulle hoor.” Filander vertel dat ’n vrou van Roosslot in Darling sowat agt jaar gelede deur haar kêrel in hul huis vermoor is. Niemand kon glo haar noodkrete hoor nie, want die bure se musiek was te hard.
Klagtes sal vertroulik hanteer word.




