Russell Foster vertel vir gaste by die amptelike opening meer oor die Grace- mediese sentrum. Saam met Foster is Hanlie Linde (die Bergrivier-munisipaliteit se bestuurder), Ray van Rooy (burgemeester), Alan Winde (Wes-Kaapse premier) en sy vrou, Tracy. Foto: Yaël Malgas


’n Uur en ’n half is te lank om te wag vir ’n ambulans, dus het Russell Foster besluit om ’n mediese sentrum in Velddrif op te rig.

Foster het 16 jaar gelede Suid-Afrika uit die Verenigde Koninkryk besoek en besluit om te bly. Oor die jare het hy twee restaurante, ’n bier- en jenewer- distilleerdery en blyplek vir bejaardes in Velddrif geopen. Foster se jongste onderneming is die private Grace-mediese sentrum in Kerkstraat.

“Op ’n manier was die bou van die sentrum ’n selfsugtige projek, want ek weet ’n uur en ’n half is te lank om te wag vir ’n ambulans om uit Vredenburg te kom. Nou het ons dié diens 24/7 in die dorp beskikbaar,” verduidelik Foster.

Die Grace- mediese sentrum is geopen met die hulp van Premier Alan Winde, wat Foster bedank het vir sy belegging in sy dorp.

“Die mediese sentrum is soveel meer as net ’n sentrum of ’n werkskepper. Sulke beleggings gee ’n gemeenskap hoop – hoop vir ’n toekoms. Dit is wonderlik om te sien hoe [Foster] se passie tot verandering en ontwikkeling gelei het,” sê Winde.

Volgens Foster het sy verskeie plaaslike projekte tot sowat R100 miljoen se belegging gelei en werk vir meer as 100 mense geskep. Die sentrum het 36 beddens waarvan 33 spesiaal ingerig is vir verswaktesorgdienste en het in November 2021 geopen. Maureen de Kock, die sentrumbestuurder, sê die sentrum is oop vir almal in die gemeenskap. “Ons het nie ’n ongevalle-afdeling of teater nie, so, vir daardie soort behandeling sal pasiënte steeds Vredenburg toe moet gaan. Ons het egter ’n bekwame span verpleegsters en die Atlantis-ambulansdienste wat op bystand is,” sê De Kock.

Foster sal binnekort self die mediese span op die proef stel aangesien hy ’n oogoperasie sal ondergaan. Hy sal daarna in die Grace- mediese sentrum aansterk totdat hy weer op die been is.

Winde het Dinsdag ook die FDSA-sopkombuis, nog ’n projek wat Foster na aan die hart lê, besoek.

Winde se besoek is twee weke voor die amptelike opening van die Parlement en die provinsiale Staatsrede.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article