Sterk wind, onweer en reën kon nie die entoesiasme van deelnemers aan die 2023- Run West-kusroete, ter ondersteuning van die natuurbewaringsdrukgroep Protect the West Coast (PTWC), demp nie.
Volgens Miles Masterson, kommunikasie- en geldinsamelingsbestuurder, het hardlopers voorverlede naweek sowat R40 000 vir PTWC ingesamel.
Vanjaar het ’n rekordaantal deelnemers – 145 hardlopers – hulle ingeskryf vir die 21 km- (van die Olifantsriviermond af) en die 10 km-draf (van Strandfontein af) na Doringbaai, tussen Dwarskersbos en Lambertsbaai.
“Die geleentheid het ’n enorme hoeveelheid bewusmaking vir die organisasie en die probleem oor mynboubedrywighede in die streek geskep,” sê Masterson.
Terwyl die roete deur ongerepte baaie, verlate strande en pragtige kuskranse geslinger het, het die hardlopers ook verby ou ongebruikte, ongerehabiliteerde mynterreine draf. Hier kon almal duidelik die verwoesting van die natuurlike omgewing wat kusmynbou agterlaat, aanskou.
“Baie van die deelnemers was nog nooit vantevore aan die Weskus nie en was verstom deur die natuurlike skoonheid én oor die verwoesting wat deur mynbou aangerig is.”
Die uitslae was:
. 10 km-mans: 1. Shadley Klaase (Doringbaai) én Gilbert Mcquin; (Doringbaai), 2. Tyler Coates.
. 10 km-vroue: 1. Kat Baguley, 2. Annene Mare, 3. Celine Oates;
. 21 km-mans: 1. Raydon Barret, 2. Justin Broadley, 3. Mark Sheehan; en
. 21 km-vroue: 1. Cally Silberbauer, 2. Shaf Gordon, 3. Megan Steytler.
. Stuur e-pos aan Miles Masterson by miles@protectthewestcoast.org of besoek die webwerf protectthewestcoast.org vir nog inligting oor die PTWC.





