Ruiters van wyd en syd het onlangs in Lutzville byeengekom vir die Lutzville-skou, waar twee plaaslike ruiters ook naam gemaak het.
Annarine van Eeden van Langebaan en Keanu Moolman van Vredenburg het aan die landbouskou, wat tussen 28 en 30 Julie gehou is, deelgeneem.
Die twee was deel van die ruiters wat van so ver as Springbok gekom het om deel te neem. Keanu, ’n Hoërskool Vredenburg-leerder, is sedert sy laerskooldae by dresseer- en Engelse skoue betrokke.
Annarine is reeds jare by perde betrokke. “Ek het nou – op 53 jaar – begin. Ek het onlangs my vlaamperd, Loftus, gekoop en aangesien hy baie potensiaal wys vir skou, het ek nou die geleentheid om dit te doen. Ek ry al van drie jaar oud af perd, maar net vir die plesier,” verduidelik sy.
Annarine sê sy het nogal ’n voorliefde vir vlaamperde vanweë hul “besonderse geaardheid”.
Keanu en Caesar het op hul beurt in Lutzville aan hul eerste skou deelgeneem. Saam het hulle die eerste plek in die ruiterkuns-driegang (19 jaar en ouer) ingeneem. Hulle het ook die vierde plek in die kampioen-driegang ryperd verower en was die reserwe kampioen in driegang -plesierperdklas.
Saam het Annarine en Loftus eerste in die vlaam-langmaanhaar-driegang geëindig asook eerste in die siertuigklas. Saam het hulle ook derde in die plesierperd-driegang geëindig.
Die Weskussers neem op 7-10 September aan die SA vlaamkampioenskap in Moorreesburg deel en dan daarna aan Robertson se trekperdskou van 6 tot 8 Oktober.





