Die rugbygemeenskap is in skok en hartseer gedompel ná die dood van ’n Hopefield-speler op die sportveld.
Medelye van Weskus- sowel as Boland-rugbyklubs het sedert die nuus van Malcolm Esau (44) se afsterwe ingestroom nadat hy glo Saterdag ná ’n wedstryd in Koringberg inmekaargesak het.
Hy was jare lank by die Universals van Hopefield betrokke en was bekend vir sy goeie spel.
Esau se rugby-talent het glo reeds op laerskool die kop uitgesteek en hy het aangegaan om ook op hoërskool rugby te speel.
“As Universals RK is ons harte gebreek en ons is steeds in skok ná die verlies van ons geliefde Malcolm Esau. Ons innige meegevoel met sy ma, kinders, geliefdes en uitgebreide familie. Uit respek vir hom en sy familie sal ons geen besonderhede gee oor wat gebeur het nie,” het Esau se span laat weet.
Weskussers en medespelers het hul herinneringe aan die rugbyman op Facebook gedeel.
“Malcolm, wat voorheen vir die Hopefield-rugbyklub gespeel het, het sy lewe aan rugby gewy en was ’n groot inspirasie vir baie jongmense in die Hopefield-gemeenskap,” het een rugby-liefhebber op sosiale media geskryf.
“Sal jou vir ewig onthou vir daardie goedgesindheid wat jy openbaar het – groet te alle tye. Ons leer ook deur jou heengaan die duur les van ‘laat julle vriendelikheid aan almal bekend wees’,” het Elzaan Niemand oor Esau gesê. Dié twee was dekades lank vriende en volgens Niemand sal sy altyd onthou hoe hulle as tieners oor skoolvakansies saam by Sea Harvest gewerk het.
Esau was steeds in die visbedryf en sy werkgewer, die Eigevis-groep, het ook hul medelye betoon: “Ons deel graag ons medelye aan Malcolm Esau se gesin, familie en vriende met die tragiese nuus dat een van ons bemanning van Noordeveld [Saterdag] gesterf het. Ons as maatskappy dink aan julle in hierdie moeilike tyd. Rus in Vrede, Malcolm.”
Esau se ouers, Mario en Ellie Louw, het aan Die Son gesê hulle is geskok deur hul seun se heengaan en tog tevrede met die lewe wat hy geleef het. Hulle het veral sy bydrae tot die plaaslike gemeenskap uitgelig.
’n Verbyry-gedenkdiens word vandag (Donderdag) vir Esau in Dwarsweg, Hopefield, gehou. Hy word Saterdag in sy tuisdorp ter ruste gelê.





