“Kyle het nie ’n bang haar op sy kop nie. Hy is ’n rugbyman deur en deur.”
Dit is hoe Kyle Williams van die Paternoster-rugbyklub deur die klub se voorsitter, April Jordaan, beskryf word. Williams, wat as haker vir die dorp se derde span speel, het die afgelope naweek in die hospitaal beland nadat hy ’n besering op die veld opgedoen het.
Klubrugby is in volle gang met die amptelike seisoen wat verlede maand begin het.
Die 22-jarige Williams en sy spanmaats het Saterdag op hul tuisveld teen Young Hearts van Pella uitgedraf toe Williams beseer is.
“Dit gaan goed met hom. Hy word by die dag beter en dit klink asof hy een van die dae terug huis toe kan kom,” het Jordaan Dinsdag aan Weslander bevestig. Woensdagoggend het Jordaan gesê Williams is terug by die huis in Vredenburg.
Wense vir beterskap vanuit die Boland-rugbygemeenskap het ingestroom nadat Williams glo ’n kop-en-nek-besering opgedoen het. Jordaan sê egter dit was ’n geval van erge harsingskudding. Aanvanklik was daar sprake dat sy een been ook verlam was. Die speler is Saterdag na die Vredenburg- provinsiale hospitaal gehaas vir behandeling en van daar na Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas.
“Ons het reeds ’n besoek van die Boland-rugbyunie gehad aan wie ons ’n verslag oor die voorval moes doen. Dit is altyd verskriklik as die kinders seerkry en dit is die laaste ding wat ons wil hê wanneer die spelers op die veld uitdraf,” verduidelik Jordaan.
Hy sê onlangs het nog ’n speler sy enkel gebreek, maar hy “vorder goed” ná sy operasie. Jordaan sê veiligheid op die veld is altyd belangrik en maatreëls is juis in plek om beserings te vermy. “Rugby is ’n kontaksport en jy moet dit besef. Ons leer hulle om nie hoog te vat nie, maar as jy voor speel, is daar ’n moontlikheid dat jy gaan seerkry. Daar is koppe oral.”





