Sewe o.19-rugbyspelers van die Hoërskool Weston is gekies om deel van die Southern Cape Sports-toer na Engeland te wees.

Die toer sal in September vanjaar begin.

Vir party ouers van die jong spelers is dit ’n gulde geleentheid vir hul seuns om hul vlerke verder as die Weskus te sprei.

Om die seuns op die toer te stuur, is egtelik duur en die ouers het die hulp van die gemeenskap nodig om hul drome te bewaarheid.

Elkeen van die leerders het omtrent R60 000 nodig om op die toer te gaan.

Angelique Wilson sê die toer sal baie vir haar seun Angelo van Wyk beteken. “My hart is baie bly en ek glo die toer sal baie deure en geleenthede vir hom oopmaak. Angelo het al van jongs af ’n liefde vir rugby en het destyds gesê hy wil eendag vir die Bokke speel.”

Laetitia Martin, Monrick Martin se ma, sê sy is baie trots op haar seun se prestasie. “My seun het gesê sy hart klop vir rugby en ’n begin van sy rugbyloopbaan. Hy het sowaar ’n passie vir rugby. As ouer probeer ek my bes om die nodige geld te bekom. Ons wil rêrig hê die geleentheid moet geskied, maar ons het finansiering nodig,” sê Martin.

Volgens Nico Bezuidenhout, die direkteur van Southern Cape-sporttoere, is dit ’n groot eer vir die seuns om gekies te word. “Ons glo die geleentheid sal hulle help om groter hoogtes in hul sportloopbane te bereik.”

Geld word egter benodig vir verblyf, paspoorte, visa’s, vlugte en baie meer. . Sou jy wou uitreik en die sewe rugbyspelers help om die toe mee te maak, kontak Martin by 071 270 7631 of Wilson by 074 926 3207.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article