Steenberg’s Cove-rugbyklub het op Saterdag 12 April geskiedenis gemaak met die opening van sy eie volwaardige gimnasium.
Hierdie mylpaal is moontlik gemaak met die hulp van plaaslike ondernemings soos Pioneer Fishing, Anker Bouers en Lonebull Groep.
Henk Hunter van Pioneer Fishing het in sy rede gesê dat die wil om die klub te bou tot ‘n prestige klub merkbaar was en dat die klub nog verdere ondersteuning van hulle sal ontvang.
Johnie Ruiters, hoofafrigter van die klub, sê spelers se liggaamlike kondisionering is ‘n belangrike faktor om kompeterend te kan wees in die Boland-rugbyunie se Grootuitdaag-kompetisie. Die spelers teenwoordig het hul passies gewys met die toerusting en was duidelik baie ingenome. ‘n Plaaslike geestelike leier Apostel Carolus Julies het die insëening behartig en die klub gemotiveer om by die proses van groei te hou en nie mismoedig te raak nie. Die gimnasium is geleë in Swemmerpark langs die hoofweg in Steenberg’s Cove.
Chris Erasmus, klubvoorsitter, het ook sy dankbaarheid uitgespreek aan Wes Security vir gratis sekuriteit.


