As hy nie sy droom op die rugbyveld uitleef nie, is Heinrich Boois (25) hard besig met sy musiekloopbaan.

Dié rugbyspeler en rymkletser van Moorreesburg kom uit ‘n familie vol passie vir musiek.

“As jong seun was dit altyd lekker om tussen die familie op Kersdag of enige ander spesiale dae deel te kon wees met die musiekatmosfeer en almal wat saam sing. Net daar het ek besef dit is wat ek in die lewe wil doen,” vertel Boois.

Boois, wat bekend is op sy verhoognaam Balle_G Music, sê die inspirasie agter sy lirieke kom uit sy gemeenskap. “Dit raak aan die maatskaplike kwessies soos armoede, dwelms ensovoorts. Om hierdie in die gesig te staar, is vir my altyd ‘n storie en so gebruik ek myself om die stem te wees om lewe te spreek deur wat aangaan in ons gemeenksappe deur my musiek. Ek kry ook inspirasie deur ervarings uit my eie lewe.”

Met al die maatskaplike kwessies wat sy gemeenskap raak, is Boois tans besig om jongelinge, wat ook ‘n liefde vir musiek het, met gratis ateljeesessies te help. Die jongelinge leer ook hoe om ‘n goeie rymkletser te word en alles wat hy moes doen om te bereik waar hy vandag is.

“Ek dink hierdie geleenthede kan in die toekoms ‘n helder lig wees vir hulle asook in hul loopbaan. Dus, op daardie noot dink ek my hulp sal sekerlik ‘n goeie resultaat in hierdie maatskaplike kwessies oplewer, spesifiek wat dwelms gerig op jongelinge betref. My vooruitgang wat ek graag wil en gaan doen, is om voordeelkonserte of samewerkende opnames te begin om kunstenaars hul gehore rondom gedeelde waardes te verenig terwyl hulle geld vir belangrike sake insamel. Hierdie inisiatiewe demonstreer hoe musiek as ‘n byeenkomspunt vir voorspraakpogings kan dien, wat ondersteuning vir maatskaplike geregtigheidsbewegings aanwakker.”

Die jong rymkletser het al saam met talle ander musiekkunstenaars in die Weskus gewerk en is besig om aan nuwe musiek en ook musiekvideo’s te werk.

Hy meen hy is meer as opgewonde om dit so te stel, want dit is ‘n heel ander weergawe van wat hy gewoonlik doen. Hierdie nuwe musiek behels die storie van sy geestelike en natuurlike kant wat hy as ‘n EP gaan vrystel.

Met groot drome op die planke bedank hy die Hemelse Vader vir die geloof in hom, “die krag en selfvertroue waarmee Hy my toegerus het om my drome en passies na te jaag.

Boois bedank ook sy familie, sy meisie, vriende en die gemeenskap van Moorreesburg vir hul ondersteuning.

Heinrich Boois op die rugbyveld vir die Moorreesburg- rugbyklub.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article