Hier is ons nou in 2026. Hoe ouer ek word, hoe vinniger gaan die minute, ure en dae verby. Al die Kersfees-goeters is weggepak en ek wonder of ons welwillendheid en goedhartigheid ook nou weggepak is.

Januarie is een van die “langste” maande van die jaar, want in Desember het ons mos die warm gevoel om ons harte gehad. Alles is wel met my siel in die maand wat persente en omgee die modus operandi is – so ook my beursie. Dan koop ‘n mens nie net wat jy nodig het nie – jy koop wat jy wil hê en nog altyd oor gedroom het, of jy gee vir almal wat jy lief het, hul droomgeskenk, al ruk dit jou sak so effens, want liefde kan nie in geld gemeet word nie.

Soms bly ons mensdom maar een van die wonderlike geheimenisse.

In Desember verdra ons baie en wys ons ons liefde aan almal, hartsmens of nie. Kom die langste maand van die jaar, verander baie van ons in duiweltjies met wrede gesigte en gewoontes. Ons veg om te oorleef en dan vergeet ons van die medemens langs ons, wat heel waarskynlik ook battle om te oorleef.

2026 het aan ons deur kom klop en eintlik al ingeloop. Die liedjie “Twinkle, twinkle, little star” laat my aan die nuwe jaar dink. Want soos jy sing: “Twinkle, twinkle, little star, how I wonder what you are?”, net so wonder ek wat 2026 gaan oplewer. Ek het lankal opgehou om daai ding te doen wat hulle Nuwejaarsvoornemens noem. Vir diegene wat dit doen en bereik, gee ek ‘n high five.

Ek dink my doelwit vanjaar is om net vandag beter te wees as gister. Hopelik sal ek dan teen einde 2026 ‘n bietjie beter af wees of ‘n beter mens wees as vandag. Die lewe is die lewe. Mense sê mos die lewe is soos ‘n niekerbol, hard, maar lekker.

Die Bybel sê daar is ‘n tyd vir als, ‘n tyd vir lag, ‘n tyd vir huil, ens. So sal 2026 ook vir ons elkeen ‘n tyd van als by ons deur kom los. Is ons plig dan nie om elke tyd voluit te embrace, soos die Engelse sê nie; die geluk en pyn deur jou lyf te laat vloei sodat jy die lesse kan leer wat die lewe vir jou wil leer nie?

Mense sê as jy fout maak en jy leer daardeur, is jy ‘n slim mens. As jy drie keer dieselfde fout maak, is jy dom-astrant.

Ek moet bieg, op sekere gebiede van die lewe is ek baie dom-astrant.

Om te fouteer, is ‘n gegewe.

Deur die loop van elke jaar maak ons mensdom maar droog. Dalk is dit die slim ding om te doen om elke jaar nuwe foute te maak sodat jy leer en groei en nie dom-astrant bly nie.

Om terug te kom na Nuwe Jaar-doelwitte en voornemens – dalk moet ons maak soos Laurika Rauch in haar liedjie, “Liewe lewe”, sing: “Al slaan die lewe my harder as donderweer, môre staan ek weer op”. Een ding is ‘n gegewe: Daar gaan dae wees wanneer jy nie OK gaan wees nie en dis ook mos maar OK. As die dae kom dat jy nie OK is nie, kan jy maak soos die liedjies sê: ” Knock Knock op Heaven’s Door”.

Ek is nie OK nie, maar ek is nog hier.

Jy is nog hier en jy kan nog ‘n verskil maak, al glimlag jy net vir iemand wat verby jou stap. Dis dalk al teken wat iemand nodig het as bewys dat iemand my raaksien, dus kan ek môre weer probeer.

Dis dalk ‘n goeie idee om die Kersfeesgees van welwillendheid en omgee te behou sodat die werêld net ‘n bietjie beter plek word. ‘n Slim vriend het my vertel van die moegmakers. Hulle is mense wat onvergenoeg is, met almal baklei, kla oor als en egosentries is – in gewone taal moeilike, onbeskofte, onlekker mense. Hulle soek vergelding in plaas van vrede.

Al het ons geen voornemens vir die jaar nie, kan ons almal probeer om nie moegmakers te wees nie. Dink net hoe baie energie daar oor sal wees vir vrede, omgee en positiwiteit.

Die lewe maak nie altyd sin nie en jou denke, gevoelens en gedrag maak nie altyd sin vir die mense in jou lewe nie. Dis soos hulle sê: ‘n Pizza is rond en word in ‘n vierkantige boks gepak en word in driehoeke gesny om te eet. So, my gevolgtrekking is: Al maak niks vir iemand sin nie, doen wat jou gelukkig maak, want ‘n mens leef net een keer en die lewe is kort, al maak jy nie sin vir ander nie. Minuut vir minuut, dag vir dag op die Heer se skoot.

Sonja Herold sing in een van haar liedjies “Een van die mooiste refreins van die lewe is môre sal die son weer skyn.”

Dit maak nie saak watter pakkies 2026 voor ons deur kom neersit nie, solank ons weet môre sal die son weer skyn, sal ons almal 2026 oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article