Gewapende rowers het ’n slapende paartjie van Sealord-singel in die Langebaan-buiteklub skielik uit hul drome geruk deur op hul bed te spring.

Dié huisrooftog verlede week volg op ’n soortgelyke rooftog waaroor Weslander in September berig het oor ’n paartjie wat in hul huis in Fairwaystraat, Langebaan, oorval, aangehou en beroof is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het twee rowers verlede Vrydag (20 Oktober) ’n 67-jarige man en sy 65-jarige verloofde omstreeks 02:30 wakkergeskud.

Die man het hom teëgesit en is aangerand. Die paartjie is met die dood gedreig en vasgebind, waarna ’n derde huisrower hom by hulle aangesluit het. Die rowers het almal klapmusse en handskoene gedra en was met skroewedraaiers en messe gewapen.

Die verdagtes het geld geëis en is met die klaer se Chevrolet Spark, twee selfone, ’n skootrekenaar, ’n silwer Rolex-horlosie en R300 vort.

Die voertuig is later die oggend verlate op die R27-pad na Kaapstad gekry.

Die klaer het mediese behandeling ontvang vir die beserings aan sy gesig.

Dit blyk dat die verdagtes ’n ruit uitgehaal en so toegang tot die huis verkry het.

’n Klagte van huisroof word ondersoek.

In die September-huisroof het die rowers ook die paartjie, in hul sestigs, in die slaapkamer oorval en met messe gedreig.

Die rowers is weg met ’n .38 Special-rewolwer, juweliersware, twee skootrekenaars en twee iPhone-selfone.

In dié geval het die rowers toegang tot die huis verkry deur ’n klein venster in die onderste gedeelte van die huis uit te haal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article