Twee vermeende rowers het Dinsdag met leë hande van ’n rooftog gevlug hoewel hulle dit aanvanklik nie geweet het nie.

’n Stemboodskap het Dinsdagoggend die rondes gedoen oor ’n gewapende rooftog in Saldanha met die verdagtes wat glo in ’n wit Hyundai gevlug het. By navraag het AO Yolanda Kotze, Saldanha-polisiewoordvoerder, egter gesê meer detail oor die voorval het aan die lig gekom. Kotze sê die voorval het om 08:30 in die parkeerterrein oorkant die Diazville-kliniek en gemeenskapsaal plaasgevind. Volgens hul verklarings was twee Fidelity-sekerheidsbeamptes besig by hul voertuig toe hulle deur ’n onbekende man genader is. Dié man het hulle met ’n vuurwapen gedreig om hul geldsakke te oorhandig.

“ ’n Tweede verdagte, ook gewapen, het toe ook nader gekom. In die proses is een van die wagte gedwing om sy vuurwapen te oorhandig. Hulle wou ook by die kluis in die voertuig kom, maar die sekerheidswagte het verduidelik hulle het nie die kode om dit oop te maak nie. Die verdagtes het te voet gevlug,” verduidelik sy.

Dit lyk egter in dié stadium asof die sekerheidsbeampte se vuurwapen al was wat eintlik gebuit is, want volgens die wagte was die geldsakke waarmee die rowers gevlug het, leeg.

Kotze kan nie in dié stadium bevestig waarvandaan die geld gekom het waarmee die sekerheidswagte aanvanklik besig was nie.

Geen beserings is aangemeld nie en die plaaslike polisie is op soek na die verdagtes.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article