Lede van Langebaan Rotariërs het Donderdag rolstoele aan verteenwoordigers van Mfesane, Vital Connection, Karitas Spesiale Skool, die St. Helena Sandveld-hospies en Siyabonga oorhandig. Foto: Yaël Malgas


’n Ontmoeting van engele.

Dit is hoe Jolene Butler-Wicht, voorsitter van die Langebaan Rotariërs, die skenking van rolstoele aan plaaslike liefdadigheidsorganisasie beskryf het. Danksy die skenking wat die Rotariërs ontvang het, kon Siyabonga, Mfesane, die St. Helena Sandveld Hospice, Kratis Spesiale Skool en Vital Connection elk rolstoele vir hul kliënte kry. Die oorhandiging het Donderdag by die Siyabonga-sentrum plaasgevind.

Die plaaslike Rotariërklub is weer verlede jaar op die been gebring en het sedertdien verskeie programme en projekte aangebied.

Volgens die begunstigdes sal die donasie beslis ’n aanwins wees.

In die geval van Vital Connection, ’n liefdadigheidsorganisasie in Saldanha, sal die twee rolstoele aan die gemeenskap uitverhuur word vir gebruik. “Baiekeer het ons bejaardes ’n rolstoel nodig wanneer hulle na die kliniek moet gaan of in die ry vir Sassa staan. Deur dit uit te verhuur sal dit meer mense kan help as om dit vir een begunstigde te gee,” het Lydia Raymond van die organisasie, verduidelik.

Peter Devey van die St. Helena Sandveld-hospies het gesê die organisasie het heelwat toerusting wat uitverhuur word, wat nou rolstoele ook sal insluit. Die hospies verdien ’n inkomste uit die verhuring aangesien huurders ’n donasie vir die gebruik gee indien hulle dit kan bekostig.

Butler-Wicht sê die missie van die Rotariërs is om ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak. Sy meen Donderdag was ’n blye dag en die hoop is om nog meer rolstoele aan nog “engele” te kan oorhandig.

Die Rotariërs het ook kleiner kinderrolstoele ontvang wat ook binnekort oorhandig sal word.

. Vir meer inligting stuur e-pos na rotarylangebaan@gmail.com of bel Butler by 072 635 8838.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article