Roses van Wellington het by vanjaar se Transnet Saldanha- Super 8-Paasrugbytoernooi teen die gasheerspan koning gekraai. Foto’s: Murphy Roberts


Roses van Wellington het Maandag sy tweede Transnet Saldanha- Super 8-Paasrugbytoernooi gewen nadat hy Saldanha, die gasheer, 27-12 geklop het.

Roses, voormalige wenner van die toernooi en ook ’n voormalige Boland-klubkampioen, het sy opmars Donderdag in die openingswedstryd begin toe hy Robertson 22-7 geklop het.

Saldanha, wat die verdedigende toernooikampioen en die huidige Boland-klubkampioen was, het egter teen ’n omgekrapte Darling in hul openingswedstryd gesukkel en net-net deurgeskuur toe hulle die wedstryd 20-18 gewen het.

Roses het die gasheer in die eindstryd van die afskop onder druk geplaas en ook eerste bloed geruik toe hy met ’n strafskop suksesvol was en 3-0 voorgeloop het. Al twee spanne se verdediging was egter rotsvas, maar Roses se dorings het by tye ook lekker seer gesteek. Roses het verder voorgeloop toe hy ’n verdoelde drie aanteken, en met die telling 10-0 ná byna 35 minute het die tuisspan egter ná skitterende dryfwerk in die hoekie afgerond om die eerste keer op die telbord te verskyn.

Saldanha, wat nie al sy kanse benut het nie, moes egter toesien hoe Roses hom telkens vir sy swak dissipline straf.

Die spanne het gaan water drink met Roses wat 10-5 voor was en die tafel was gedek vir ’n opwindende tweede helfte met al twee spanne wat alles in die stryd sou werp.

Saldanha het gou sy agterstand tot net een punt laat krimp met ’n verdoelde drie, en met die telling 12-13 het die stadion gedreun met “speel hulle, boys; speel hulle, boys!” soos plaaslike toeskouers hul span aangemoedig het.

Die klipharde wedstryd is egter versuur toe spelers mekaar gegryp en die skeidsregter ná die voorval vier geelkaarte uitgedeel en dus vier spelers gelyktydig afgestuur het. Saldanha kan egter net homself blameer aangesien die span se skopper sy skopskoen by die huis vergeet het. Saldanha het verskeie maklike strafskoppe binne trefafstand verbrou terwyl Roses twee verdoelde drieë behaal het om die Weskus-skip finaal te sink.

Roses het in sy tweede wedstryd van die toernooi ook met die moeilike Crusaders van George afgereken toe hy die wedstryd 34-21 gewen het.

Saldanha het egter op sy beurt in die laaste minuut sy wedstryd teen Progress van Uitenhage beklink en met 17-14 geseëvier. (Meer op bl. 18)

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article