Die swart rookstrook wat Sondag 19 Mei bo Vredenburg gehang het, kon vir kilometers ver gesien word.
Brandweermanne van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se sentrale brandweerdienste het omstreeks 08:45 by die erf in Derdestraat aangekom en moes spook om die vlamme wat buite beheer gebrand het, te blus.
Die vuur het in ’n houthuisie agter op die erf ontstaan ná een van die partye betrokke by ’n rusie dit na bewering aan die brand gesteek het.
Jason Standers, ’n buurman, het aan Weslander vertel dat hy die rook gesien en geskree het dat mense die brandweer moet bel.
Hy het oor die tuinmuur gespring, die tuinslang gegryp en die vlamme met ’n dun tuinslang probeer blus. Sy flinke optrede het waarskynlik daartoe bygedra dat die vlamme nie na ’n nabye boom en die huis op die erf versprei het nie.
Tereza Burger, kommunikasiebeampte van SBM, het gesê vier brandbestrydingsvoertuie met die nodige toerusting het na die toneel van die brand gehaas. “Die bemanning het onmiddellik met brandbestryding begin en die brand om 10:10 met water onder beheer gebring.”
Daarna het die brandbestryders voortgegaan met afkoel-operasies tot 10:30, waarna hulle die toneel verlaat het. “Geen beserings is tydens die voorval aangemeld nie.”
Omstanders het tydens die brandbestrydingsoperasie eenkant toe geduik toe ’n pyp wat die een brandslangtol van water voorsien met ’n harde knalgeluid oopgebars het.
Burger het verduidelik die pyp het gebars weens ’n verstopping wat druk daarin laat opbou het.
“Die pyp is intussen vervang en die betrokke brandweerbakkie is reeds weer operasioneel en diensgereed,” het hy gesê.
Kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, het teen druktyd bevestig nog geen klagte van brandstigting is by die Vredenburg-polisie ingedien nie.





