Allerhande seediere het die afgelope week in St. Helenabaai en in die Bergrivier as gevolg van ’n rooigety uitgespoel. Foto’s: Lurina Eykelenboom-Fourie


Alles van krappe tot pylstertvisse het die afgelope week in die Bergrivier-gebied uitgespoel.

Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het inwoners gewaarsku dit is as gevolg van ’n rooigety in St. Helenabaai, wat na die Bergrivier-gebied versprei het.

Inwoners is gemaan om nie gedurende die rooigety te swem nie en om liefs nie seediere wat uitgeloop het, te eet nie.

“Hierdie vrektes, wat groot getalle garnale, krappe, inkvisse, seewurms, pylstertvisse, haaie en ander spesies insluit, is die eerste keer aangemeld vanaf die Bergrivier-riviermondarea naby Velddrif, en meestal binne die riviermond. Klein getalle kreef was ook teenwoordig – by die monding van die riviermond en die aangrensende kuslyn,” het die departement se Peter Mbelengwa verduidelik.

Die departement waarsku dat veral die kreef wat uitloop, ’n gesondheids­risko inhou indien dit geëet word.

“Onsekerheid oor die kreef se tyd van dood, tesame met potensiële besoedeling deur algegifstowwe, hou gevare vir menslike gesondheid in. Inname van hierdie gifstowwe kan lei tot ernstige nadelige reaksies en selfs sterftes,” verduidelik die departement.

’n Rooigety word veroorsaak deur ’n suurstoftekort in die see, wat daartoe lei dat diere op strande “uitloop”. Die tekort aan suurstof beteken ook dele van die see het ’n rooierige skynsel; vandaar die naam rooigety. Volgens die departement is rooigetye algebloeisels, m.a.w. ’n ophoping van ’n groot hoeveelhede fitoplankton (eensel-alge). Die verskynsel kom algemeen gedurende die laatsomer en herfs langs die Weskus – veral die St. Helenabaai-gebied, Elandsbaai, Dwarskersbos, Doringbaai en Lambertsbaai – voor.

Weslander verneem monsters is nie net deur beamptes van die departement en CapeNature geneem nie, maar ook deur navorsers as deel van hul monitering.

Dié werk vorm deel van die departement se Weskus-kreef-aksieplan. Dit behels dat alle lewende krewe gevang en hervestig word.

Enige kreef wat reeds gevrek het, word weggemaak.

Kreef is ekonomies een van die belangrikste spesies vir plaaslike vissers.

Die toegelate vangs van kreef is afgelope seisoen vir die hele sektor met 16% gesny.

Die afgelope paar jare was daar grootskaalse uitloop van kreef. Volgens die departement het sowat 550 ton kreef in 2022 uitgeloop en 100 ton die volgende jaar. Elandsbaai is in 2023 veral erg geraak.

“Die afname in kreefdigtheid lei tot verminderde vangste in daaropvolgende seisoene, wat ekonomiese uitdagings vir Weskus-vissersgemeenskappe, wat sterk op die kreefhulpbron afhanklik is, vererger,” verduidelik die departement.

Veral jong en wyfie-krewe kan deur rooigety geraak word omdat hulle van nature vlakker water verkies.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article