Die jaarlikse Appliance World Weskus-kano-uitdaging het Saterdag (27 Januarie) weer in Velddrif plaasgevind met talle roeiers wat deelgeneem het.
Roeiers kon onder meer aan die 20-km-wedvaart op kajakke en branderski’s deelneem of die genotvolle 10-km-roete aanpak. Talle roeiers het ook op SUP-planke (opstaan-roeiplanke) deelgeneem.
Vanjaar se uitdaging was die 11de weergawe van die roei met die wegspring en eindstreep wat onder die dorp se bekende Carninusbrug was. Die grasperk van die Riviera-hotel was oudergewoonte vol ondersteuners wat gereed gestaan het met glasies koeldrank vir dié wat hul roei voltooi het.
Dominic Notten en Ashlyn Quenet-Meintjies in hul sea craft 1 was eerste oor die eindstreep in die 10-km-item. Die eerste enkelroeiers was Rob Meintjies in 1:02:17, gevolg deur Amy Diffett vier minute later.
In die 20-km-item was die eerste vyf roeiers almal van die Peninsula-kanoklub. In die eerste plek was Ulvard Hart (1:31:07) gevolg deur Reef Funston, Ian Trautmann, Jared Shrimpton en Shanti Steward. Melanie van Niekerk was die eerste vrou wat die 20-km-item voltooi het.




