Die lewendige musiek- en onthaalvenue langs die gewilde Plaasmol-padstal naby Hopefield is herdoop na die West Coast Rock Theater*, en is einde Junie met ’n vertoning deur ’n verskeidenheid kunstenaars bekend gestel.
Die eerste kunstenaar wat die verhoog Donderdag 29 Junie op die openingsaand betree het, was Johan Liebenberg en sy orkes, wat die gehoor met uitvoerings van Neil Diamond-treffers vermaak het.
Daarna het die seremoniemeester, Alan Hughes, vir Roug Weich, die Weskus se eie Elvis, en sy orkes bekendgestel. Weich se blinkwit-uitrusting en bygaande bewegings en handgebare eie aan die regte Elvis én ’n stem amper soos dié van die Koning-van-ruk-en-rol het die gehoor spontaan op hul voete laat spring om te dans.
Die hoogtepunt van die aand was Rooiwynprofeet en sy orkes. Michael Jonker het met sy rasperstem ’n wye verskeidenheid treffers laat herleef.
Peet en Hanneli du Toit van Langebaan, wat soos een mens beweeg, het die hele aand gewys hóé gedans kán word.
Volgens Cecily Immelman, ’n Radio Houtstok-omroeper en sangeres, wat die Rock-teater se bemarking behartig, beplan hulle om kunstenaars van hoogstaande gehalte na dié venue te nooi. Die eienaar van dié Rock-teater is Burger van den Bergh, wat ook die grond besit waarop die teater, die padstal, die Beeskrip-pub en die Lady Bug-kwekery staan. Die stuk grond staan nou bekend as Kleine Hopefield.* Die Amerikaanse spelling van die woord “theater” is gekies om saam te val met die idee van Amerikaanse Weskus-sangers en -kunstenaars, luidens die webwerf.





