Antwoorde oor die oorsaak van uitsterwing van talle robbe langs die kus verlede September kom stadig maar seker aan die lig.
In September toe dooie robwelpies in Lambertsbaai en ander Weskus-strande uitspoel, het navorsers van Sea Research van die welpies gevries. Dié proses was om monsters te neem om te probeer uitvind wat die oorsaak van hul vrektes was. Volgens ’n verklaring van die organisasie kan die welpies onder meer die omgewingsfaktore uitlig waaraan hul ma’s blootgestel was ten tye van hul swangerskap, wat meer inligting oor die vrektes kan verskaf.
Volgens Sea Research het vorige navorsing getoon dat die natuurlik voorkomende biotoksien, domoïensuur, kan lei tot voortydige geboorte en dood in robwelpies. “Daar is potensiaal vir langtermynprobleme wat die oorlewing kan beïnvloed van selfs lewensvatbare kleintjies wat tydens swangerskap aan domoïensuur blootgestel word, sowel as die moeder,” verduidelik die navorsers.
Die bevindings kom nadat robbe weke lank in die Kaapstadse-, Bergrivier-, en Saldanhabaai- munisipale gebiede uitgespoel het met gevalle veral in Lambertsbaai en Elandsbaai.
Intussen het die provinsiale departement van landbou se staatsveearts- laboratorium nadoodse ondersoeke op van die diere gedoen en onder meer gevind hulle ly aan ernstige wanvoeding.
“Kliniese tekens, insluitend stuiptrekkings wat wys in die videomateriaal wat ontvang is, dui op moontlike biotoksienvergiftiging. Gevolglik is uitgebreide toetsing vir beduidende parasiete en virusse, insluitend hondesiekte, sowel as bakteriële infeksies op alle karkasse, uitgevoer. Die resultate was óf negatief óf onbeduidend. Alle resultate vir biotoksiene was ook negatief,” het die departement van omgewingsake in ’n verklaring gesê.
Dié verklaring is saam met die Cape of Good Hope Dierebeskermingsvereniging en die provinsiale staatsveearts uitgereik. Volgens die departement is soortgelyke vrektes in 1994-’95 gesien.
Karkasse wat nou gevind word, sal vervolgens na die provinsiale staatsveearts se laboratorium geneem word vir toetse.
Die departement maan steeds die publiek om weg te bly van enige uitgespoelde robbe. Hulle vra strandbesoekers om liewer met die DBV kontak te maak.




