’n Emosionele Rhino-span het Saterdag teen Saldanha in die Grootuitdaagreeks opgedraf om hulde te bring aan hul ontslape spanmaat, Nolan Adams.
Nolan was voor sy afsterwe, op die jeugdige ouderdom van 19, een van Rhino’s se staatmakervleuels (“Jong man verdrink”, Weslander, 30 November 2023).
Die Rhino’s het nie verwag om teen die einde van die wedstryd steeds emosioneel te wees nie. Die spelers het gou “aangeskakel” en op die wedstryd gefokus.
Met die aanvang van die wedstryd het Samelio Claase van Saldanha binne die eerste minuut die lyn gebreek en onder die pale gaan kuier om ’n voorsprong van sewe punte op te bou. Ná die drie het ’n verbroude inskop aan die kant van die Rhino’s ’n skrum op die middelveld afgedwing en kon die span van Piketberg al reeds die druk ervaar.
’n Hanteerfout aan die kant van Saldanha het die kaptein van Piketberg, Muré Pickard, egter in staat gestel om 60 m te hardloop om ’n drie aan die regterkant van die veld te druk. Pickard het die telling met ’n moeilike maar suksesvolle doelskop op sewe elk te staan laat kom.
Piketberg het baie foute in die eerste 20 minute van die wedstryd gemaak. Inskoppe vanaf die middellyn het aanvanklik nie eens die kwartgebied van Saldanha gehaal nie; lynstane was pateties en het die opponent se springers gevind; deur op te skrum, het stutte telkemale strafskoppe afgestaan. Ook was die spelers van Rhino’s nie juis doeltreffend in die losskrums nie en het sodoende baie balle afgestaan.
Dit het Saldanha se groter losvoorspelers die kans gebied om met die bal te baljaar.
Die kaptein van die Rhino’s het daarin geslaag om sy span in die 25ste minuut te laat voorloop deur ’n strafskop vanuit sy eie gebied, op die 10 treë-stippelyn, oor te skop om die telling op 10-7 in die guns van Piketberg te bring.
Ná ’n breekslag is die bal na binne gevoer en kon Brodie Botha van Saldanha onder die pale druk om die telling te laat aanskuif na 14 teenoor 10 in die guns van Saldanha.
Na wat verneem word het ’n onsmaaklike voorval met ongeoorloofde spel buite die reëls van mededingende spel glo aan die kant van een van die opponente se spelers, die span van Piketberg van stryk gebring.
Met ’n gemiddelde ouderdom van 24 aan die kant van die Rhino’s-spelers, was die skrif teen die muur om hulle te motiveer om enigsins mededingend te wees. Monray Jacobs, Saldanha se skrumskakel, het hierna gemaklik onder die pale gaan kuier om die telling op 21-10 te staan te laat kom. Twee drieë deur De Wet van Rooyen en Samelio Claase het die halftydtelling na 31-10 in die guns van Saldanha geneem.
Vir die Piketbergers het dit in die tweede helfte begin voel die wedstryd moes maar net einde kry. Met Muré Pickard se drie en nog drie drieë deur Saldanha kon die twee spanne in die kleedkamers gaan afkoel met die oorwinning aan die kant van Saldanha met ’n telling van 52-17.



