Die bestuurder van ’n bekende restaurant in Paternoster het gister, Woensdag 1 Maart, in die hof verskyn oor beweerde onwettige kreefsterte wat in Januarie by sy eetplek gevind is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, was hierdie hofverskyning by die landdroshof op Vredenburg die verdagte se tweede verskyning sedert die polisie en kreefinspekteurs van die departement van omgewing, bosbou en visserye (Deff) op 23 Januarie meer as 600 kreefsterte by die restaurant ontdek het.
Die verdagte het op 6 Februarie die eerste keer in die hof verskyn.
Die saak word nou deur die polisie se plaaslike eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies ondersoek.
Helfrich sê die beskuldigde kon nie ’n faktuur vir die kreefsterte toon nie.
Dit is ’n misdaad om kreef sonder ’n permit te vang, om dit sonder die nodige toestemming en permit te verkoop, of om kreef by ’n straatverkoper te koop, verduidelik sy.
Die bestuurder het gistermiddag aan Weslander gesê sy saak is tot 13 Maart uitgestel wanneer hy ook formeel sal pleit. Die restaurant en die beskuldigde se naam is bekend aan Weslander, maar word weerhou totdat die ondersoek en hofverrigtinge in ’n meer gevorderde stadium is.

