Miljoene rande se skade is tydens die onlangse vloede aangerig en die rehabilitasieproses is nou aan die gang.
Volgens die Wes-Kaapse departement van landbou het ’n assessering tussen 26 en 30 Junie die skade in die Weskus, Overberg en die Kaapse Wynlande bepaal. Skade aan rivierwalle, besproeiingstoerusting, paaie en wingerde is bereken.
Volgens die departement beloop die omvang van die skade sowat R7,7 miljoen (besproeiing), R1,4 miljoen se skade aan omheinings, R278 miljoen se verlore gewasse en R18,7 miljoen se verlore inkomste van seisoenale werkers.
Die rehabilitasie van riviere, oewersones, wingerde en boorde as gevolg van groot volumes sediment wat stroomop verwyder en stroomaf in riviere beweeg het, asook in die rivieroewers, wingerde en boorde neergelê is, word op R748 miljoen geraam.
Die omvang van die skade is nie net die direkte vloedskade nie, maar sal deur die hele landbou-waardeketting gevoel word, verduidelik die departement.
Die departement hoop om die gebiede wat deur die skade geraak is tot ’n rampgebied te verklaar. Intussen probeer die departement om produsente toegang tot tegniese inligting deur middel van sy voorligtings- en adviesdienste te bied.
In ’n poging om toekomstige vloedskade teen te werk gaan die departement voort met die rivierbeskermingsprogram.




