Met die hele sage rakende Joshlin Smith se verdwyning het die lugborrel van onskuld, rustigheid en verdraagsaamheid wat onsigbaar oor die Weskus gehang het, onseremonieël gebars.

Vir jare langer as ander gebiede in die land, was daar ‘n skyn van vrede en rustigheid, wat duisende mense na die gebied gelok het.

Minder as ‘n dekade gelede het verskeie inwoners nog hul deure en vensters ongesluit gehou, want dit was die karakter van die omgewing.

Die breë Weskusmens is egter steeds te goedgelowig en gaaf. Waar die leuse van “dis beter om gaaf te wees as noodwendig reg” nié van toepassing is nie, is wanneer mense met die ongelooflike aantal bedrieërs en swendelaars wat uitwyk Weskus toe, te make kry.

Die meeste sake word nie by die polisie aangemeld nie, want mense kry skaam. Hulle voel simpel omdat hulle hulle laat inloop het deur kamstige bankamptenare en sogenaamde werkers by lugrederye en dergelike ondernemings. Tóg is verskeie sake al wel aangemeld waar die slagoffer net eenvoudig die beller geglo het. Die skelms teiken mense spesifiek, met ‘n ouer man met ‘n diep stem wat ‘n pa-figuur by vroue inboesem of ‘n liefderike vrouestem wat die mans teiken.

Weskussers moet wakker skrik. Sê net nee. Dankie vir jou oproep, maar nee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article