Nadat die nasionale regering deur die Nasionale Rampbestuursentrum (NDMC) ná die wydverspreide oorstromings van einde September die Wes-Kaap ’n paar weke gelede uiteindelik as rampgebied verklaar het, is die nuus ontvang dat die Wes-Kaap geen geld gaan ontvang vir die miljoene rande se herstelkoste nie.
Die rampklassifikasie sou dit vir die Wes-Kaapse regering moontlik gemaak het om die NDMC vir finansiële hulp te nader om die opgraderingswerk aan infrastruktuur te help finansier.
Mireille Wenger, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het egter verlede Dinsdag in haar mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) en aanpassingsbegroting vir die 2023-’24-boekjaar gesê hierdie finansiering is nou van die baan.
Wenger sê die geraamde skade aan infrastruktuur weens vanjaar se oorstromings beloop ongeveer R845 miljoen, asook R500 miljoen vir die landbousektor.
Wydverspreide skade is tydens die oorstromings aan belangrike paaie en brûe in die provinsie aangerig, met veral die Botrivierbrug op die N2 wat heeltemal weggespoel het.
Daar is ook erge skade aan die Franschhoekpas en Clarence-rylaan tussen Gordonsbaai en Rooiels aangerig.
“Dit spyt my dat ons nie vanjaar finansiering van die NDMC ontvang het nie en ook nie sal ontvang nie, aangesien sy geld wat spesifiek opsy gesit is om op rampe te reageer uitgeput is,” sê Wenger.
“Die Wes-Kaapse regering het egter geprioritiseer vir groei en werksgeleenthede, en daarom het ons daarin geslaag om wel geld toe te wys om te herbou ná rampe, soos dit toenemend sal plaasvind weens die uitwerking van klimaatsverandering.”
Sy sê die provinsie sal R193 miljoen uit sy reserwefonds vir onvoorsiene en onvermydelike oorstromingskade in 2024 en 2025 bestee. R150 miljoen sal aan paaie-infrastruktuur bestee word en R43 miljoen aan herstelwerk aan landbou-infrastruktuur wat deur die oorstromings beskadig is.
“Hoewel die provinsiale infrastruktuurbegroting met 6,6% afgeneem het (groot projekte en landbou-infrastruktuur uitgesluit), verreken ons die daling in die begroting met instandhouding en herstelwerk van R568 miljoen (20,9%), en opknappings en byvoegings met R49 miljoen (3,2%),” sê Wenger.
Sy sê “die nasionale begrotingsproses het in duie gestort”.
“Daar is geen sekerheid oor die volgende drie jaar van die MTBR nie en nou is daar geen sekerheid in die huidige boekjaar nie, met besnoeiings wat op ’n ongekende wyse in die jaar gedoen is.”
Voorwaardelike toelaes aan die Wes-Kaapse departement van landbou van die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is vir die 2023-’24-boekjaar met R11,065 miljoen besnoei, sê dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, in ’n verklaring.
Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê die vermindering in voorwaardelike toelaes is die gevolg van die land se haglike fiskale situasie, wat beteken dat die departement ’n mate van dienslewering oor hierdie tydperk sal moet inboet.
“Die vermindering in voorwaardelike toelaes het ’n direkte impak op dienslewering vir ondersteuning aan nuwe boere, die uitroei van uitheemse plantegroei asook omheiningsprojekte, wat alles kritieke dienste vir die landbousektor en veiligheid in die Wes-Kaap is,” sê Meyer.
Hy sê hy het ook die staande komitee ingelig dat hy ’n eis van R500 miljoen by die nasionale regering ingedien het vir die herstel van die onlangse oorstromingskade.
“Ons is gelukkig dat die Wes-Kaapse regering R5 miljoen van die aangepaste begroting bewillig het en ’n verdere R40 miljoen vir die volgende boekjaar vir oorstromingsverligting vir geraakte boere.
“Ons sal voortgaan om die ondersteuning aan ons boere te versterk en om maniere te vind om die impak van die nasionale regering se onregverdige verskuiwing van die staatsdiensloonrekening op provinsies te versag. Dit belemmer ons vermoë om ons gemeenskappe en die landbousektor te ondersteun,” sê Meyer.
Wenger het uiteengesit dat die Wes-Kaap weens tegniese aanpassings aan die provinsiale billike aandeel sowel as fiskale konsolideringsmaatreëls deur ’n netto verlaging tot die 2023-basislyn van R6,7 miljard of 3,5% oor die MTBR in die gesig gestaar word.
Die provinsiale basislyn word dus verminder met R2,219 miljard (of 3,64%) in 2024-’25, R2,211 miljard (of 3,48%) in 2025-’26 en R2,307 miljard (of 3,48%) in 2026-’27, het Wenger bygevoeg.





