Dinsdag (15 Maart) was dit twee jaar sedert Suid-Afrika in ’n staat van inperking ingegaan het.
Die staat van inperking is vandeesweek vir nog ’n maand tot 15 April verleng.
Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het Maandag die verlenging veroordeel en gesê die inperking kan nie onbepaald voortgaan nie. “Die provinsiale begroting, wat ons gister ter tafel gelê het, maak dit duidelik dat ons ten volle voorbereid is om op verdere Covid-19-golwe te reageer, en dat ons sal voortgaan om in ons inentingsprogram te belê om lewens te red.
“Maar die wetenskaplike bewyse is duidelik – ons het nie meer ’n rampwetverklaring nodig om die pandemie te bestuur nie, en ons moet eerder ons reaksie deur bestaande gesondheidswetgewing normaliseer,” meen Winde.
Teen Dinsdag was daar 105 positiewe Covid-gevalle in die Saldanhabaai-munisipale gebied. In die Swartland was 95 gevalle aangeteken, 46 in Matzikama en die Bergrivier het 25 en Cederberg het 14 gevalle gehad.
Kenners meen in die lig van die relatiewe lae positiwiteitskoers, inentings en die trae ekonomie is dit tyd om die inperking amptelik te beëindig. Volgens die kwartaallikse syfers vir die arbeidsmag tussen 1 Julie 2020 en 30 September 2021 het 183 000 mense in die Wes-Kaap hul werk verloor.
Selfs diegene wat hul werk behou het, se werkswyse het verander. Volgens ’n Business Insider-peiling wil een uit elke vyf Suid-Afrikaners verhuis en steeds van die huis vir hul huidige werkgewer werk.
Dié verskynsel het voordele vir die Weskus met vele stadsjapies wat plaaslik na die kus verhuis het, het André Truter, Saldanhabaai se burgemeester, onlangs aan Weslander gesê.
Truter het bygevoeg dit is dus belangrik om plaaslike infrastruktuur, veral wat internet-infrastruktuur betref, te verbeter en in stand te hou.
Intussen sal maskers, veilige sosiale afstande tussen mens en beperkte byeenkomste tot 15 April van toepassing bly.



