Personeel van die rampbestuursentrum het as deel van die Weskus-distriksmunisipaliteit se gemeenskapsveiligheidsbewusmakingsveldtog intervensies oor die Paasnaweek reg oor die distrik ondersteun en gefasiliteer.
Die Weskus-rampbestuursentrum het ’n Paasfees-bedryfsentrum by die rampbestuurdersentrum in Moorreesburg gekoördineer met die doel om ’n gesentraliseerde en samewerkende benadering tot rampbestuur, wetstoepassing en gemeenskapsveiligheidsingrypings in te span.
Wetstoepassers en die munisipaliteit se veiligheidsgelukbringers het besoekers en toeriste by die Ganzekraal-vakansieoord ontmoet terwyl veiligheidsambassadeurs die Swartland-munisipaliteit tydens ’n padblokkade op die N7-hoofweg ondersteun het.
Die Weskus-distriksmunisipaliteit, die Saldanhabaai-munisipaliteit en New Hope, ’n organisasie sonder winsoogmerk, het die pediater-saal by die Vredenburg- provinsiale hospitaal besoek en sagte speelgoed en Paaseier-geskenkpakkies uitgedeel.
Die Paasveiligheidsprogram het tot ’n einde gekom met ’n rit deur Louwville, waar geskenke uitgedeel en veiligheidswenke met inwoners van die gemeenskap gedeel is.
Die raadslid Joos Engelbrecht, portefeuljehoof vir gemeenskapsveiligheid by die distriksmunisipaliteit, sê samewerking tussen verskeie departemente lewer positiewe resultate. “Die geïntegreerde koördinering wat oor die Paastyd gedoen is, spreek van die gesamentlike pogings waartoe alle rolspelers verbind is. Die impak van hul pogings kan reg deur die hele streek gesien word,” het Engelbrecht gesê.
Hierdie intervensies vorm almal deel van die distriksmunisipaliteit se gemeenskapsveiligheidstrategie met die doel om ’n risikovermydingskultuur te kweek en veiliger omgewings vir almal te skep.





