Die Weskus-distriksmunisipaliteit se rampbestuursentrum het ’n splinternuwe stel wiele en beoog om dié voertuig te gebruik om die streek te help beveilig.
Franquin Petersen, hoof van Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) se rampbestuursentrum, het die voertuig by die munisipaliteit se sentrum in Moorreesburg in ontvangs geneem.
Die voertuig is uitvloeisel uit ’n vennootskap tussen die Weskus-distriksmunisipaliteit en die provinsiale departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, wat poog om gemeenskapsveiligheid vir die streek te bevorder.
Die voertuig sal gebruik word vir ingrypings wat spreek tot ’n risikovermydingskultuur en bydra tot rampbestuur in die area.
Die vennootskap tussen WKDM en die Wes- Kaapse regering het ook radio-infrastruktuur aan die Bergrivier-, Swartland-, Saldanhabaai-, Cederberg- en Matzikama-munisipaliteit verskaf.
WKDM se rampbestuursentrum het ook ’n geïntegreerde, webgebaseerde program verkry wat elke plaaslike munisipaliteit in staat sal stel om sy veiligheidsdienste aan hul gemeenskappe te verbeter.
Petersen het die Wes-Kaapse regering bedank vir hul bydrae.
“Elke hulpbron help ons om veiliger gemeenskappe te skep en ons vra ons gemeenskappe om inisiatiewe te ondersteun, maar meestal om saam te werk om ons Weskus veilig te hou.”
Volgens die Boffie Strydom, uitvoerende burgemeester van Weskus-distriksmunisipaliteit, is die munisipaliteit se gemeenskaps- en landelike veiligheidsplan daarop gefokus om veiliger en meer volhoubare gemeenskappe te vestig.





