Ten spyte van die koue weer het 17 vrywilligers Saterdag in Harderstraat, White City, Saldanha, bymekaargekom om rommel op te ruim.
“Ons het gehoop om die hele straat skoon te maak, maar aangesien ons ’n klein span was en die hoeveelheid rommel oorweldigend was, het ons besluit om op een gebied te konsentreer,” sê Sheena Truter van Team Clean Saldanha.
Truter het al die rolspelers wat tot die sukses van die skoonmaakveldtog bygedra het, hartlik bedank.
“Almal het baie hard gewerk en die resultaat is ongelooflik. Dankie aan al die verteenwoordigers van White City, die Saldanha-buurtwagte, Chas Everitt, Fidelity ADT, Saldanha Bay Hotel, Saldanha Bay Municipality, die wyk 3-raadslid Charlene Van Nooi en die inwoners van Saldanha vir jul toewyding aan die gemeenskap.”
Team Clean Saldanha glo “waar dit vuil is, is daar misdaad” en nooi inwoners om een keer ’n maand deel van die skoonmaakaksie te word.
Enigeen wat by Team Clean Saldanha Bay betrokke wil raak, kan dit op die volgende maniere doen: . Gee twee ure van jou tyd een keer ’n maand om te help vullis optel.. Skenk gebottelde water aan die vrywilligers wat die werk doen.. Span jou sakeonderneming in (jy kan jou onderneming se baniere opsit en jou diens adverteer). . Bring jou eie hark om die werk makliker te maak. . Skenk handskoene.
Skakel Sheena Truter by 076 083 3688 vir nog inligting.





