Hoekom en waarom?

Dit is dié vrae wat deur die gedagtes van Erilo Byl (27) se familie gaan nadat sy lewelose liggaam Woensdag (17 Januarie) by Tabakbaai-strand gevind is.

Dié jong Diazville-inwoner, beter bekend as Rico, was alom bekend in sy gemeenskap en het ’n hart van goud gehad. Dis hoekom die familie nie kan verstaan hoekom hy weens so ’n wrede daad omgekom het nie.

Volgens sers. Wesley Twigg, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, ondersoek die Saldanha-polisie ’n saak van moord. “Die slagoffer het oop wonde aan sy lyf en gesig gehad. Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar,” sê Twigg. Die nuus van Rico se moord het soos ’n veldbrand deur die gemeenskap versprei. Omtrent 100 mense het Vrydag 19 Januarie na die Saldanha-polisiekantoor opgeruk om vir geregtigheid vir Rico te pleit.

Volgens Rovene Jacobs, Rico se suster, het hulle glad nie sulke hartverskeurende nuus verwag nie.

“Ons het Rico Sondagmiddag laas gesien en van hom gehoor. Dit was ongewoon van hom om nie kontak te maak nie. Hy het ons altyd laat weet waar hy oorslaap of waar hy is,” vertel Rovene.

Rovene sê sy en haar ma het Maandagmiddag 15 Januarie steeds niks van Rico gehoor nie, en dit het hulle bekommerd en paniekerig gemaak.

“Ek het die polisie gebel en ons het hom die volgende dag as vermis aangemeld. Ons is deur die strate van die baai met sy foto op soek na hom en het ook by die duine gaan soek, maar niks gesien nie.”

Rico was ’n mense-mens, lief vir sport – veral netbal – en om kinders af te rig, vertel Rovene. Dit gaan haar verstand te bowe dat iemand hom so sou seermaak. “Ek kan nie aan ’n rede dink nie. Hy het niks gehad nie – nie ’n motor nie, nie ’n vaste werk nie, niks watwonders nie. Hy was nie ’n moeilike mens nie. Hoekom?”

Latiefa Ehrenreich, voorsitter van die Bo-Blok-buurtwag, meen die gemeenskap is keelvol vir die misdaad en moord in hul omgewing. “Ons word gyselaar gehou in die dorp waar ons gebore is. Die polisie moet meer doen; hulle het die mag. Ons wil nie meer stories hoor nie. Die jeug verloor elke dag ’n lewe. Genoeg is genoeg!”

Sy familie beskryf Rico as iemand wat in almal se hart gekruip het. “Hy was ’n mens met waarde en almal het hom geken. Hy het dit wat met hom gebeur het, nie verdien nie; hy het soveel drome vir 2024 gehad. Wie hom seergemaak het, het hom van sy drome beroof,” vertel een familielid.

Twigg bevestig dat die polisie die omstandighede rakende die voorval ondersoek. Enigiemand met inligting oor die moordsaak kan speursers. Siyabonga Bara by 079 894 0083 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article