Die veiligheid van raadslede is nou onder die loep nadat Sibusiso Gqeba, Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se raadslid vir wyk 9 (Ongegund, Vredenburg) Donderdagaand 1 September geskiet is.

Gqeba, ’n ANC-raadslid, was as passasier in ’n Toyota Conquest onderweg toe die voorval plaasgevind het. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-distrik, was die polisie Donderdagaand skuins na 20:00 met patrolliediens in George Kerridge besig toe ’n lid van die gemeenskap die beamptes voorkeer.

’n Verdagte het glo op ’n passasier en die bestuurder van die Toyota losgebrand. Die skieter het vermoedelik op die motor gevuur toe dit vanuit Kootjieskloofstraat in Kwikstraat ingedraai het. Die beseerde bestuurder het blykbaar dadelik na die hospitaal gery, want volgens Helfrich het die polisie minute nadat hulle van die voorval ingelig is, die nuus ontvang dat twee pasiënte met skietwonde by die Vredenburg-provinsiale hospitaal aangekom het. By nadere ondersoek het die polisie vasgestel dat die passasier, raadslid Gqeba, agt keer in die rug geskiet is en die bestuurder van die motor is in die regterarm getref.

“Die raadslid is na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad vervoer. Nege patroondoppies is op die toneel gevind en die ondersoek duur voort om die verdagte op te spoor,” het Helfrich gesê.

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord. Thereza Burger, ’n woordvoerder van SBM, het Vrydag 2 September in ’n amptelike verklaring van die munisipaliteit gesê Gqeba is in ’n kritieke toestand nadat hy na afloop van ’n gemeenskapsvergadering geskiet is. “Ons gedagtes is by hom en sy gesin in hierdie moeilike tyd,” het Burger gesê. Intussen het raadslid Zandile Komani-Nkohla, ANC-hoofsweep vir Saldanhabaai, bevestig gesprekke is aan die gang om die veiligheid van raads­lede aan te pak. Komani-Nkohla sê ’n vergade­ring is met die munisipaliteit se speaker gehou om dreigemente en veiligheid te bespreek. “Ons verneem daar is nog raadslede, van verskeie politieke partye, wat dreigemente ontvang het. Ons wil graag ’n plan sien wat veiligheidsmaatreëls insluit, want vele raadslede leef nou in vrees,” het hy verduidelik. Weslander het in die verlede berig oor ’n plaaslike raadslid wie se huis aangeval is vermoedelik weens inwoners se ongelukkigheid met die stand van behuising in hul buurt.

Dié raadslid het na die voorval verhuis weens die dreigement.

Ingevolge SBM se beleid kan alternatiewe blyplek vir raadslede gevind word indien hul lewe in gevaar is.

Persoonlike beskerming mag ook verskaf word indien die hoof van wetstoepassing en die polisie dit goeddink na aanleiding van ’n risiko- assessering. Dié besluit moet deur die munisipale bestuurder goedgekeur word. Komani-Nkohla het sy kollega en sy familie sterkte toegewens en verduidelik die party respekteer ook die familie se versoek vir privaatheid.

Helfrich het bevestig die saak is vandeesweek aan die Kaapse eenheid vir georganiseerde misdaad oorgeplaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article