Die pyn by die brandstofpomp is sedert gister (Woensdag 7 Mei) effens ligter danksy brandstofpryse wat gedaal het. Dit is die derde agtereenvolgende maand dat die brandstofprys verlaag is.
Die departement van minerale bronne en energie het ‘n 22c-per-liter-verlaging vir petrol (beide 93 en 95) en ‘n verlaging van 42c (500 ppm) en 41c (50 ppm) per liter diesel aangekondig. Dit beteken dat 95 oktaan-petrol nou R21,40 in die binneland kos en R20,57 aan die kus. Diesel kos R18,90 in die binneland en R18,07 aan die kus. Parrafien se grootmaatprys daal met 31c per liter.
Die prys van brandstof het in April met 58c per liter vir 93-oktaan, 72c per liter vir 95-oktaan en van 85,80c tot 83,80c per liter vir diesel gedaal.
Die prys van gas het ongelukkig met 46c gestyg – slegte nuus so voor die winter.
Die hernuwing van motorlisensies gaan heel moontlik duurder word. Die Wes-Kaapse regering nooi inwoners om voor Saterdag 17 Mei kommentaar te lewer op die beoogde 4,5%-verhoging in tariewe. Die nuwe tariewe sal op 1 Augustus vanjaar in werking tree.
Die voorgestelde styging wissel van 3,9% tot 4,8%.
Kleiner motors wat tussen 750 kg en 1 000 kg weeg, sal – indien die verhoging aanvaar word – R408 betaal teenoor die vorige bedrag van R390.
Groter voertuie soos nuts- motors wat tussen 2 000 kg en 2 250 kg weeg, se lisensiekoste styg van R1 104 tot R1 152.
Die provinsiale regering het gesê die goeie toestand van die provinsie se paaie kan daaraan toegeskryf word dat die inkomste van motorlisensies gebruik word om paaie in stand te hou en op te gradeer.
• Stuur e-pos na Robyn.Titus @westerncape.gov.za om op die voorgestelde verhoging kommentaar te lewer.



