Tydens die agste krag-digicon het die spesiale raadgewer oor energie aan die Wes-Kaapse Premier, Alwie Lester, beklemtoon fases 5- en 6-beurtkrag sal voortduur.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se jongste weeklikse digitale konferensie is verlede Donderdag (20 April) gehou met die doel om gereelde inligting oor die provinsie se reaksie op die kragkrisis te gee.
Volgens Lester, ’n voormalige provinsiale bestuurder by Eskom, dui Eskom se energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) daarop kragvoorsiening het die 14de week van 2023 op 51,63% gestaan – teenoor ’n bevredigende EAF tussen 85% en 87%. Prakties beteken dit hoër fases beurtkrag met rotasie van fases 3, 4 en 6 het teen druktyd gegeld.
Volgens Bruce Raw, hoofstrategiebeampte by GreenCape, is dit kritiek dat die land meer elektrisiteit nodig het. “Vir individue en ondernemings om elkeen hul eie krag op te wek, is ook net ’n korttermyn-oplossing,” het hy verduidelik.
Raw het gesê om eenvoudig “van die grid af te gaan”, is ’n misleidende term en beteken grotendeels om minder afhanklik van Eskom-elektrisiteit te wees. “Wat gewoonlik gebeur, is bykomende [elektrisiteit] opwekking vind plaas. Sommige munisipaliteite probeer om die hoeveelheid krag wat hulle by Eskom moet koop, verminder, maar hulle is steeds grootliks afhanklik van die nasionale kragnetwerk. Dit is ’n goeie ding. Die nasionale netwerk is ’n bate,” het hy gesê.
Die beste manier om die kragkrisis die hoof te bied, is eenvoudig om meer elektrisiteit op te wek.
Raw het verwys na ’n studie deur Meridian Economics, wat bevind het hoewel beurtkrag verlede jaar veel erger as in 2021 was, sou ’n 5 GW- bykomende hernubare energie tussen 71% en 92% van beurtkrag kon uitskakel, afhangende van die aanvullende maatreëls vir diesel-voorraad.
Plaaslik is daar planne om ’n sonkrag-aanleg in St. Helenabaai op te rig. Die stryd van Karpowership SA om in Saldanhabaai vas te meer, duur voort en ander ontwikkelings word beplan. Planne vir ArcelorMittal SA (Amsa) om kragopwekking by die Saldanha-aanleg te begin, het intussen deur die mat geval. Ontwikkelingsprojekte om meer elektrisiteit in die kragnetwerk te kry, is uiters belangrik, het Raw Donderdag verduidelik.
Hoewel dit nie die groter beurtkragprobleem oplos nie, kan dit verligting bring meen hy.



