Die Suid-Afrikaanse (SA) Kaasfees het president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat buitelug-venues nou 50% vol mag wees, met vreugde aangehoor en moedig kaas- en wynliefhebbers aan om dit onmiddellik te begin benut.
Fees-entoesiaste sal dadelik baat deur ’n kaartjie teen ’n verlaagde prys te koop.
John Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, die organiseerder van die SA Kaasfees, sê die ekstra feesgangers word met ope arms verwelkom en is dankbaar dat hierdie besonderse ervaring teen ’n meer bekostigbare prys aangebied word.
Die SA Kaasfees innoveer vanjaar deur oor twee naweke by twee verskillende bestemmings aan die Weskus en in die Wynland op te wip: Saterdag 23 April en Sondag 24 April by Groote Post buite Darling aan die Weskus en Saterdag 30 April, Sondag 1 Mei en Maandag 2 Mei by Sandringham buite Stellenbosch.
Kaartjies kos R290 per dag. Die feestye is van 10:00 tot 18:00 daagliks.
Volgens Ehlers kan hulle die kapasiteit van besoekers nou by Sandringham verhoog en ’n ekstra feesdag op die Werkersdag-vakansiedag byvoeg. “Ons het die fees oorspronklik beplan met regulasies wat van toepassing was, maar pas voortdurend ons aanbod aan om besoekers en uitstallers te akkommodeer.”
Ehlers sê gaste kan dieselfde unieke ervaring van gehalte waarvoor die SA Kaasfees reeds vir twee dekades bekend is, verwag. “Almal ken die Sandringham-landgoed as die tuiste van die SA Kaasfees, terwyl Groote Post ’n spesiale ervaring bied om plattelandse gasvryheid op die ongelooflike Pentz-familie se geskiedkundige 18de eeuse plaas te geniet.”
Die SA Kaasfees bied ’n ware waarde vir geld-ervaring – jou toegangskaartjie koop inderwaarheid ’n hele fees opwip-ervarings:. ‘Kaas dit en geniet dit’: Die hart van die SA Kaasfees bly die unieke ervaring om die grootste verskeidenheid kase – ou gunstelinge én innoverende nuwes – te kan proe en koop.. ‘WineFest, BeerFest, Gin’OClock: Kom ervaar kuier-kuier ’n uitgesoekte versameling bekroonde wyne, boetiekbier en -jenewer. Jou toegangsfooi sluit immers ’n eksklusiewe SA Kaasfees-wynglas sonder ’n steel in.. Proe dit eerste: Talle uitstallers benut die SA Kaasfees as ’n platform om nuwe produkte bekend te stel en die mark te toets – ontdek dit hier voordat dit op die winkelrakke verskyn.. ‘Standard Bank Travel & Taste: Kaas trou hier met wyn, bier en elke nuwe gier saam met bekende glans-sjefs en wynkenners. Kom kyk, luister en proe teen geen ekstra koste nie. Die bekende sjef Tiaan Langenegger sal elke dag om 13:00 ’n voorsmakie van sy splinternuwe Tiaan Proe-televisieprogram gee saam met Ladismith Cheese (met sy akteurmaat Neels van Jaarsveld, wat Saterdag 23 April en Sondag 1 Mei ’n draai aan sy tafel maak).
Sjef Isabella Niehaus, wat verlede jaar in Parys ’n prys vir haar kookboek Duinhuis gewen het, bring haar beroemde gerooktesnoek-kaaskoek saam.
Kom leer ook meer oor die pas en proe van wyn saam met kenners van die Chenin Blanc-vereniging, die Groote Post-wynmaker Lukas Wentzel en die jare lange SA Kaasfees-gunsteling, die oorspronlike glans-sjef Jenny Morris.. ‘#SupportSmallCheesemakers’: Kom ondersteun entrepreneurs wat ondanks vele uitdagings van heinde en ver kom om hul unieke handgemaakte kaas aan kaasliefhebbers bekend te stel, moontlik gemaak in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou.. ‘Die Ladismith-kaaskerfkompetisie’: ’n Daaglikse hoogtepunt – skryf gratis by die fees in (plek is beperk). Bewys jou kreatiwiteit, kerf ’n kaas en wen groot pryse! . ‘Die Hollard Band Stand’: Kom geniet jou aankope op die ritme van gewilde kunstenaars – van Die Heuwels Fantasties, Francois van Coke, Watershed, Ard Matthews en Kurt Darren tot die rockgroep Flat Stanley, wat vir die eerste keer in jare optree, sowel as die nuwe gunsteling Will Linley en talle ander plaaslike kunstenaars. . ‘Die Afgri Feeds Milk Factory’: Besoek die vriendelike koeie by die Melkfabriek en leer meer oor hierdie opregte melkdiere, die begin en die belangrikste deel van die produksielyn in die kuns van kaasmaak – ’n bekende en genotvolle ervaring by die jaarlikse SA Kaasfees.. ‘Foodies #GoingPlaces’: Kosstalletjies bedien watertanddisse met net nog meer kaas!. ‘Wees verantwoordelik’: ’n Covid-19-toegangsbeleid van bewys van inenting of ’n negatiewe toetsuitslag sal geld.
Kaartjies is by Webtickets (bit.ly/sacheesefest-popuppicnics) en Pick n Pay te koop. Geen kaartjies sal by die hekke verkoop word nie. Slegs ’n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar.





