Oppi Noot maak Woensdag 5 Junie sy eerste verskyning op die kassie.
Dié musiekspeletjiesprogram begin om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en agter die splinternuwe, prettige musiekspeletjiesprogram is ’n bloubloed-span wat vir top-vermaak gaan sorg.
In Oppi Noot ding sangers mee in ’n reeks uiteenlopende en vermaaklike sang-uitdagings. Die vervaardigers is Stemmburg Televisie, wat ook vir gewilde programme soos Noot vir Noot en Musiek Roulette verantwoordelik was. Johan Stemmet en die Stemmburg TV- produksiespan is aan die stuur van sake. Stemmet het reeds in Desember 2023 met Weslander gedeel dat die program in 2024 sy verskyning sal maak.
Oppi Noot is nie ’n realiteits-TV-sangkompetisie nie. Die sangers sal punte verdien vir hul prestasie in die verskillende speletjies. Hoe meer liedjies ’n deelnemer kan sing, hoe beter. Drie sangers sal aan elke episode deelneem, en daar is in elke program kontant om te wen. Hoe verder jy na die eindronde vorder, hoe meer geld is op die spel.
Drie gelukkige kykers gaan elke week gekies word om as lug-vennote aan die program deel te neem. Lug-vennote wen geld na gelang van hoe goed hul sangvennote vaar. Stemmet sê dit is so vreugdevol en pret om te sien wat die program by deelnemers ontlok.
“Ons leuse was nog altyd: Happy people make happy programmes en dit is wat ons span weer met Oppi Noot reggekry het. Dit is ’n prettige, interaktiewe joyride van begin tot einde.”
Aan die begin van die program sing elkeen van die sangers een vers van ’n liedjie. Die eerste drie kykers wat die liedjies korrek kan identifiseer, word gekies as daardie episode se lugvennote. En die beste van alles is, jy hoef nie eens jou sitkamer te verlaat nie.
“Wat kan kykers verwag? Pret, plesier, baie gelag, lekker saamsing en iets heeltemal anders,” sê Emo Adams, aanbieder van Oppi Noot.
Adams sê hy het dit baie geniet dat Oppi Noot voor ’n gehoor opgeneem is, “omdat dit gevoel het soos ’n lewendige optrede. Daar is nie deelnemer-podiums nie, en dis nie ’n suit-en-tie-show nie. Dit was regtig ’n jol.
“Jy weet jy werk aan iets baie spesiaals wanneer selfs die kameramanne saam lag en dans. Daar was goeie kameraderie tussen die deelnemers, wat ongewoon is, want hulle is veronderstel om teen mekaar te kompeteer, maar as jy weer kyk, harmoniseer hulle saam. Dit was lieflik om te sien,” voeg Adams by.
Die sangers word deur ’n orkes, onder leiding van Jaconell Mouton, begelei. Onder die deelnemers is van professionele sangers tot studente, ’n projekbestuurder en ’n eiendomsagent. Hulle het egter een ding gemeen: Hulle wil wys hulle kan sing.
Emo sê dis ’n ideale program vir gesinne om saam te geniet. “Jy gaan dalk nie die liedjie ken nie, maar iemand ouer of jonger in jou gesin miskien wel. Almal gaan wil saamspeel. Wat ek ook baie van Oppi Noot geniet het, is dat dit nie oor die aanbieder gaan nie, maar oor die deelnemers. Dit was groot pret om dit te doen.”





