Die vinnige gesprekke smiddae tussen ouers wat buite die skoolhek staan en wag . . . dis waar ’n mens die stories hoor wat vir die mense van die plattelandse Weskus belangrik is.
Oomblikke nadat die laaste skoolklok lui en ’n stroom kinders by die klaskamers uitpeul, hoor ek twee ma’s praat oor die vreemde weer, die vroeë reën en die kort somer wat ons vanjaar ervaar. (Sien die voorblad.)
Nog twee praat oor hul daaglikse beurtkraguitdagings en die feit dat kos en brandstof so duur geword het. (“Beurtkrag lei tot duurder, vrot kos” – Weslander 2 Februarie 2023). Verlede week was die skoolhekgeselsies oor die twee motorfietsryers wat op die pad tussen Hopefield en Velddrif tragies gesterf het. (“Vredenburg-egpaar sterf” – Weslander 23 Maart 2023).
Ek dink nie praatjies oor die weer en duur kos is net small talk vir die mense hier nie – dis die goed wat saakmaak. Hier in die Kaap sterf hordes daagliks, en niemand skryf oor hulle nie. Hulle is net ’n nommer in ’n stad waar 5 845 299 miljoen mense woon, volgens World Population Review se syfers vir 2023.
As iemand hier sterf, is die kans groot dat jy hom ken. Dit vat aan jou. En dis waarom gemeenskapsjoernalistiek op plattelandse dorpe nog sterk staan.




