Die beoordelaars het heerlik aan die deelnemers se potjiekos gesmul.


Wat begin het as die geesteskind van die destydse aanklaerspan in 2013, het tot ’n groot gedoente uitgebrei en groei van jaar tot jaar. Die Covid-19-pandemie het vir twee jaar die potte se vuur geblus, maar hierdie jaar was die spanne terug – met mening.

Die perseel van die Vredenburgse landdroshof was Vrydag 21 Oktober al van vroegdag af ’n miernes van bedrywighede. Nie minder nie as 14 spanne het deelgeneem, bestaande uit al die rolspelers wat by die daaglikse werking van die hof betrokke is. Dit het staatsaanklaers, hofordonnanse, administratiewe ondersteuningspersoneel, plaaslike polisiekantore en speurtakke, die verkeersafdeling, Korrektiewe Dienste, maatskaplike werkers, prokureursfirmas en die Regshulpraad ingesluit.

Volgens adv. Eben van Tonder het die dag gedien as ’n spanbou-geleentheid om al die rolspelers bymekaar te bring en vir ’n wyle te vergeet van die geweldige stres en werksdruk waaronder almal daagliks werk. “Dit was terselfdertyd ook ’n gemeenskapsuitreikprojek. Die inhoud van die potjies en al die kos is onder hulpbehoewende gesinne in die plaaslike gemeenskap versprei. Ons bedank sers. Thelma Qoma en haar span by die Vredenburg-speurtak, wat nie net self ’n pot gemaak het nie, maar die logistiek ten opsigte van die verspreiding van die kos behartig het.”

Die organiseerders het 530 kosbakkies versprei.

Die wenspan hierdie jaar was die 1960’s Domestic Workers, wat bestaan het uit die administratiewe ondersteuningspersoneel van die landdroskantoor. “Die beoordelaars was hoogs beïndruk met hul spangees en die heerlike beesstert-en-stampmielie-pot wat voorgesit is. Die organiseerders het die wenspan gelukgewens en hul opregte dank aan al die deelnemers en almal wat bygedra het, betuig.”

’n Spesiale woord van dank is aan die seremoniemeester en raakvatter, Ryno Fransman, asook kapt. Robbie Richards vir sy bydrae uitgespreek. Die beoordelaars is ook bedank.

Groot opgewondenheid heers reeds vir volgende jaar se geleentheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article