Die Weskus se top-junior potspel-spelers het die afgelope naweke kragte gemeet om die spanne te kies wat die streek by die Suid-Afrikaanse kampioenskap sal verteenwoordig.
Die Weskus Pool-spelers, van so jonk as 9 jaar oud, het Saterdag by die St. Helenabaai-hotel byeengekom vir die geleentheid. Twee spanne, o.14 en o.18, het sake uitgespook om die finale vyf spelers vir elke ouderdomsgroep te kies.
Weskus Pool het sowat twee jaar terug met jeugontwikkeling begin om kinders geïnteresseerd in die sport te kry.
“Ons wil graag die kinders meer blootstelling gee. Hulle is so ywerig oor potspel en dit is maar moeilik om blootstelling te kry wanneer jy nie een van die groot sportsoorte soos rugby is nie,” verduidelik Graham Swartz, die bestuurder van die o.14-span.
Die jong spelers kom van onder meer Langebaan, Noordhoek en St. Helenabaai getrou na hul oefensessies oor naweke. Vele neem ook aan ander sportsoorte deel en moet soms tussen die kodes kies en potspel trek soms aan die kortste ent. Saterdag se proewe het om 09:00 begin, met elke speler wat omtrent 30 wedstryde gespeel het om te bepaal of hulle die span sou haal.
Hoewel sommige van die spelers se potspelstokke langer as hulle was, was die spelers se deursettingsvermoë en vaardighede ooglopend.
Die o.14-spelers wat in die Oktober-skoolvakansie na Bellville reis vir die kampioenskap is Ishraq (12) en Zayaan (13) Mintin, Stiaan Franse (13), Ryan Riddles (8), Julian Riddles (10). Saam met hulle sal Swartz en skeidsregters Drien Booth en Vigeniëa Payne reis.
Liam Church (15), Samuel Makhele (17), Brentino Michaels (15), Sherwin du Plessis (17) en Umange Tayam (14) maak saam die o.18-span op. Dié span word bestuur deur William Huisamen en skeidsregters Nico Barkhuizen en André de Vos sal ook by die toernooi wees.
Hoewel nie al die spelers gekies is nie, het Huisamen gesê daar is nog baie potspel om te speel tot en met die toernooi en almal gemoedig om hul vaardighede vir die volgende toernooi op te skerp.
Ligawedstryde begin eersdaags vir die spelers en dan sal hulle ook in pare begin speel.
Die juniors werk nou om gereed te maak vir die toernooi, maar het daarvoor finansiële hulp nodig.
. Enige individue of ondernemings wat kan hand bysit om te help kan Weskus Pool se Gert Hibbert by 083 287 6833 skakel.





