Wyle Marius Fourie (64) by een van sy skeppings wat vandag nog as ’n bekende Weskus-landmerk dien.Foto: Dana Snyman.


Die legendariese Weskus-kunstenaar Marius Fourie (64) is Saterdag (13 Mei) stil-stil aan kanker oorlede.

As redaksionele spotprenttekenaar het sy onnutsige sêgoed, vlymskerp politieke kommentaar en ondeunde karikature van bekende Weskus-figure Weslander-lesers amper ’n kwart eeu lank vermaak. Hy kon tipiese Weskus-oomblikke uitbeeld met talent, vernuf, humor en satire.

Sy afsterwe by sy huis in Vredenburg lui die einde van ’n era in, hoewel een van sy skeppings, die Moer-toe-gepomp-windpomp langs die Vredenburg-Paternoster-pad, ’n bekende Weskus-landmerk sal bly. Toeriste is veral lief om selfies met dié windpomp in die agtergrond te neem.

“Hy was ons eie Fred Mouton,” meen Stefan Kolver, Paarl en Breedevallei Media-uitgewer en voormalige advertensiebestuurder by Weslander, wat al die jare saam met Marius gewerk het. “Jy het presies geweet wie dit is wat Marius teken – net uit die manier waarop die karakter sy sigaret vashou, sy wenkbrou lig of hoe hy sit of staan. Baie mense kan goed teken, maar Marius het die talent gehad om mense neer te pen presies soos hulle is, met hul unieke sêgoed. ’n Mens kon altyd sê: ‘Dis nou tipies’ hy of sy.”

Hy onthou mense kon nie wag om te sien waaroor die spotprent van die week gegaan het en wie raakgeteken is nie.

Brenda, Marius se vrou van 40 jaar, vertel Marius se gesondheidsprobleme het in 2021 begin. Hy moes eers ’n pasaangeër kry en daarna is blaas- en prostaatkanker by hom gediagnoseer. Hy het die afgelope tyd erge pyn verduur en is Saterdagoggend omstreeks 10:15 oorlede.

Marius het as plaaskind in die Grootfontein-omgewing grootgeword en van gr. 7 af in Windhoek skoolgegaan. Hy het sy diensplig van 1978-1980 gedoen, waarna hy as redaksionele spotprenttekenaar en grafiese ontwerper by Die Suidwester en Die Republikein gewerk het. Hy het ook as polisiereservis foto’s vir die polisie geneem.

Brenda onthou met ’n glimlag hoedat Marius haar gekeer het om met ’n weermagkaptein uit te gaan deur haar in sy vriend se videowinkel toe te sluit totdat dit te laat was vir dié afspraak. Hulle was van toe af onafskeidbaar en is in 1983 getroud. Hulle het in 1989 na Middelburg in die Karoo verhuis, waar Marius vir die destydse CokaCola-maatskappy tekenborde ontwerp het. Hulle het ook in die omgewing geboer.

Die Fouries het in 1994 na die Weskus verhuis, waar Marius by Weslander, toe nog in besit van Gerrie Fourie, se naambord-afdeling as grafiese ontwerper betrokke geraak het. Hy het voortgegaan om spotprente te teken.

Marius het die naambord-onderneming, Signage, in 1999 by Frans Lesch van Langebaan gekoop en dit na die North Western-hotel (vandag die Ford-tak) in Vredenburg se Hoofstraat verskuif, maar later verkoop. Hierna het hy Signs & Graphics by die hotel geopen.

Hier het Marius altyd ’n koppie koffie reg gehad en tyd vir ’n geselsie en ’n paar grappe. Hy het Signs & Graphics later verkoop, maar sy seun, Christo (29), het dit vanjaar teruggekoop. “Ek het baie op my pa se insette en raad staatgemaak. Dit was vir my van onskatbare waarde.”

Marius se gesin gaan veral sy onnutsigheid, grappies en “stoutgatgeit” mis en sal hom vir sy goedhartigheid en gasvryheid onthou. “Hy sou sy laaste vir iemand in nood gegee het; homself te na gekom het,” het Christo gesê.

“ ’n Man met ’n goue hart en almal se vriend,” is hoe die Weskus hom onthou.

Die Fouries se ander seuns is Willie (39), Johan (38), ’n voormalige grafiese ontwerper by Weslander, Marius (34) en Boeta (12). Marius was baie lief vir Jonathan Doussy (17), wat hom as sy “oupa” beskou het.. Die begrafnis is Saterdag 20 Mei om 11:00 by die NG kerk Saldanha.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article