Die publiek word gewaarsku teen ’n toename in slenters wat lyk of dit van die Suid-Afrikaanse Poskantoor afkomstig is.
Die sakereddingspraktisyns van die SA Poskantoor het in ’n verklaring lede van die publiek gewaarsku oor die jongste slenters wat onder hul aandag gekom het.
Anoosh Rooplal en Juanito Damons, die gesamentlike sakereddingspraktisyns, sê hulle is bewus gemaak van misdadigers wat boodskappe vervals deur lede van die publiek te teiken om geld in die “poskantoor” se rekening in te betaal vir aflewerings wat weens uitstaande geld glo nie hul bestemmings kan bereik nie.
Die boodskappe word per e-pos en SMS uitgestuur en blyk van die SA Poskantoor af te kom.
Van die boodskappe lui: As gevolg van ’n verkeerde adres op die goedere-etiket kan ons posman nie jou bestelling aflewer nie. Dateer asseblief die afleweringsadres binne 24 uur op, anders sal ons die pakkie terugstuur, skakel: cutt.Oly/6wrgXUqQ.
Die skakel is vals, sê die sakereddingspraktisyns.
Deur op die vals skakel te klik, lei dit die gebruiker na ’n betaalbladsy waar hulle gevra word om geld in ’n rekening te deponeer om ’n pakkie “vry te stel”.
In verskeie gevalle word ’n vorm ingesluit wat die bankkaartnommer en die CCV-nommer agterop versoek.
Die kombinasie van die kaartnommer en CCV-nommer word vereis vir aanlyn aankope.
“As jy hierdie besonderhede met die swendelaar deel, kan hulle dalk jou bankkaart gebruik vir bedrieglike inkopies tot op die kredietlimiet,” lui die verklaring.
’n Ander opgemerkte verneukspul sê: Aflewering in Suid-Afrika. Jou pakkie is in Suid-Afrika afgelewer, maar om dit te ontvang, moet afleweringskoste binne sewe dae betaal word. Indien dit nie betaal word nie, sal die pakkie teruggestuur word aan die persoon wat dit gestuur het. Betalingsbesonderhede [3.99 ZAR].
Luidens die praktisyns sal die SA Poskantoor nooit: . vooraf invoerregte of uitklaringsheffings vra, of om dit aanlyn te betaal nie. As doeanegeld betaalbaar is op ’n pakkie uit die buiteland, betaal die kliënt die koste wanneer hulle die pakkie by die poskantoor se toonbank afhaal;. jou bankrekeningnommer of CCV-nommers vra nie; en. kliënte vra om hul adresbesonderhede aanlyn by te werk nie.
Die SA Poskantoor stuur aan kliënte ’n SMS of ’n geposte afhaalstrokie wanneer hulle ’n pakkie gereed het vir afhaal by ’n genoemde/spesifieke poskantoortak. Hierdie pakkie moet so gou as moontlik afgehaal word om seker te maak dit word nie aan die versender terugbesorg nie.. Indien jy enige inligting oor posmisdaad het, kontak asseblief die Poskantoor se tolvrye misdaadondersoeklyn by 0800 020 070.


