Die visvangregte vir kommersiële vissers is onlangs toegeken.


Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum voer aan dat gerugte oor politieke inmenging in die vissersbedryf en bewerings van kaderontplooiing ondersoek moet word.

“Dié inmenging bring mee dat [Wes-Kaapse] kleinskaalse vissersgemeenskappe, wat hul brood en botter uit dié bedryf verdien, se lewensbestaan én kultuur nou ernstig in die gedrang is. Kaapse Forum eis daarom ’n dringende en deeglike ondersoek na hierdie bewerings om deursigtigheid en aanspreeklikheid in die toekenning van visvangregte te verseker,” het die organisasie in ’n verklaring gesê.

Die oproep vir ’n ondersoek kom ná die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DBVO) se onlangse beslissings oor die toewysingsproses vir visvangregte.

Vele vissers is ongelukkig gelaat ná jare se gesloer van die toekenningsproses en toe die uiteindelik vangste.

Plaaslik het vissers in St. Helenabaai onder meer gekla oor die onpraktiese voorskrifte wat saam met die nuwe regte gekom het. Vissers in ander dele van die provinsie het ook hul ongeluk laat hoor.

Die forum meen die departement se beslissings, sowel as klagtes en kommentaar uit die sektor, beklemtoon die ontstellende situasie waarmee tradisionele kleinskaalse en mediumgrootte kommersiële vissers tans te kampe het.

“Kaapse Forum erken die belangrikheid van volhoubare visvangpraktyke en die behoefte om mariene- hulpbronne verantwoordelik te bestuur. Die organisasie veroordeel egter enige optrede ten sterkste wat, soos tans beweer word, die welstand van vissersgemeenskappe vir politieke gewin in gevaar stel.

“Die besluit om visvangpermitte toe te ken aan individue wat nie afhanklik is van visvang vir hul lewensbestaan nie, laat ernstige vrae ontstaan oor die motivering agter dié toekennings,” het die organisasie Dinsdag luidens ’n verklaring gesê.

Volgens Tommy van Zyl, koördineerder van Kaapse Forum, speel vissersgemeenskappe ’n belangrike rol in plaaslike ekonomieë deur onder meer die verskaffing van werksgeleenthede en die handhawing van kultuur in kusgebiede.

“Ons is veral bekommerd oor die potensiële impak wat hierdie toekennings, wat skynbaar aan politieke vriende gemaak word, op hierdie gemeenskappe kan hê. ’n Ekonomiese krisis staar families wat dikwels geslagte lank reeds vissers is in die gesig, terwyl visvangpermitte uitgedeel word aan sakelui wat dit weer teen reusewinste wil verkoop,” meen Van Zyl.

Hy waarsku ook dat die toekenning van visvangper­mitte waarskynlik nog ’n wyse is waarop stemme vir die komende 2024-verkiesing gewerf word.

Die organisasie doen ’n beroep op die DBVO om die toewysings van visvangregte te heroorweeg, met inagneming van die werklike behoeftes en bydrae van diegene wat direk van die visbedryf afhanklik is vir hul lewensbestaan.

Kaapse Forum eis ook dat ’n einde gemaak moet word aan enige praktyke wat politieke belange bo die welstand van vissersgemeenskappe prioritiseer.

“In ’n tyd waarin die ekonomie krimp en rentekoerse styg en dus ook ’n styging in die prys van voedsel tot gevolg het, word Suid-Afrika se kleinskaalse en mediumgrootte kommersiële vissers doelbewus uit die ekonomie gesny. Hierdie beleid is onaanvaarbaar.

“As ’n organisasie wat verbind is tot regverdigheid, deursigtigheid en die volhoubare gebruik van mariene hulpbronne, staan Kaapse Forum skouer aan skouer met tradisionele kleinskaalse en mediumgrootte kommersiële vissers wat deur hierdie besluite geraak word en beloof om te werk aan ’n regverdige oplossing van hierdie kwessie,” sê Van Zyl.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article