Ná drie dekades in die polisiediens groet AO Yolanda Kotze van die Saldanha-polisie.
Kotze (52) lê die tuig as polisiewoordvoerder neer om ’n nuwe seisoen te begin.
“Dit was ’n gebedsaak om te besluit om klaar te maak. Ek gaan beslis my kollegas mis en al die mense met wie ek deur my gemeenskapsprojekte bande gebou het, maar niks keer my om steeds na hulle uit te reik nie,” meen sy.
Kotze het aan die Hoërskool President gematrikuleer en daarna ’n skoonheidskursus voltooi. Oorspronklik van Vereeniging het sy na die Weskus gekom toe sy met Wikus getroud is.
Die gogga het egter gebyt en soos haar pa het sy besluit om ’n polisiebeampte te word. Aanvanklik was sy in Kaapstad gestasioneer en het sy haar later by die kriminele rekordsentrum, nes haar pa, aangesluit. Hier het sy haar kunstalente gebruik om onder meer “identity kits” saam te stel.
In 1997 in Saldanha het sy skofte gewerk, maar nadat sy deur ’n man aangeval is, het sy herbesin of die polisiediens werklik vir haar was. “Ons het skofte gewerk en ek was by die toonbank. Die man was deurmekaar, het oor die toonbank gespring en my geskop en slaan. Dit was skokkend. Dit het regtig my menswees aangetas en ek het mooi gedink of ek langer kan aanbly.”
Gelukkig vir Kotze, en haar gesondheid, het ’n pos as skakelbeampte beskikbaar geraak en sy het in 2001 die rol aangeneem. Hier kon sy haar passie vir mense uitleef en het begin om as skakel tussen die polisie en die gemeenskap te dien.
Benewens die interne en eksterne kommunikasie het sy vele projekte begin. Dit is veral haar werk met kinders en bejaardes in Saldanha wat vir haar uitstaan. “Ek moes die grondslag lê. Vroeër vandeesmaand toe ek my laaste geleentheid met die bejaardes van Vital Connection gehad het, het ek besef watter impak ek ná 18 jaar op die mense se lewe gehad het. Ek het so geliefd gevoel en kon sien wat ek doen het werklik iets vir hulle beteken.” Só hartseer was die bejaardes dat hulle geskenke van alles van kieries tot geverfde klippe aan haar oorhandig het.
Kotze sê die ander groot hoogtepunt van haar werk was om met kinders te werk. “Baiekeer maak ouers hul kinders bang met die polisie. Daar was altyd twee of drie kinders in die groepie wat ek kon sien bang is vir die polisie. Dit was dan wonderlik om te sien ná die sessie dat hulle dies was wat na my toe gekom en vir ’n drukkie gevra het.”
Vele dinge het oor die jare in die polisiediens en in die gemeenskap verander. Kotze meen vir haar was dit veral verblydend om te sien hoe ’n meer geïntegreerde gemeenskapsbenadering vir ondersteuningsdienste gevolg is. Programme soos slagofferondersteuning en Whole of Society Approach (WoSA) het beteken dat departemente en organisasies nie meer in “silo’s” werk nie, maar liewer hande vat om gemeenskappe te help.
Kotze sê haar raad aan vroue wat die polisiediens wil betree, is om baie seker van jou saak te wees. “Bid daaroor. Indien jy die werk vir die geld wil doen moet jy dit liewer los. Jou passie moet vir mense wees en om die gemeenskap te dien – called to serve, soos hulle sê. Jy gaan met die lelikste van die samelewing te doen kry, misdadigers, en aan die ander kant die slagoffers van hul dade. Dit is mense wat deur geweldige trauma gegaan het wat jy moet help.
“Dit vat natuurlik aan jou. Daar is baie opofferings en ek is beslis nie dieselfde Yolanda van 32 jaar gelede nie, maar ek is ’n sterker mens en weet ek het gehelp om andere te help bemagtig.”
Kotze vertel dit is haar liefde vir kuns, haar tuin, haar familie en haar geloof wat haar deurgedra het. Sy meen dit is uiters belangrik om ’n balans tussen werk en die res van jou lewe te hê. Saam met haar man en dogter, Anja, is sy gereeld in die buitelug en geniet “die son op my gesig”.
Nog meer dankbaar is Kotze vir haar lewe nadat borskanker in 2017 by haar gediagnoseer is. Dit was net drie jaar nadat een van haar twee broers ná ’n kort siekte weens kanker gesterf het. “Dit ruk jou tot in jou fondasies, maar ek glo die Here het my gebruik. Ek het vertrou en geglo ek sou dit deurmaak met Sy hulp en nou, ses jaar later, is ek in remissie. En ek sal my getuienis deel oral waar ek gaan, want dis die hardste wat God met jou kan praat, maar jou ook deurdra.”
Sy bedank haar kollegas, bevelvoerders en die vele rolspelers met wie sy oor die jare te doen gehad het, maar veral haar gesin. Sy meen ná 32 jaar in die polisie het sy nuwe avonture wat wag.





