‘n Gesoute polisieman is Saterdagmiddag dood en ‘n konstabel beseer in ‘n botsing reg van voor teen ’n vragmotor op die Velddrif-Piketbergpad.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is AO Jan Hendrik Swarts (59) op slag dood en konst. Donovan Katzke (29) ernstig beseer in die botsing wat omstreeks 16:45 gebeur het. Katzke het reeds operasies aan sy twee gebreekte bene in ’n Kaapse hospitaal ondergaan.
Moses Tom (62), die vragmotorbestuurder wat vermoedelik die botsing veroorsaak het, is op die ongelukstoneel in hegtenis geneem. Hy het vanoggend vlugtig in die Laaiplek-landdroshof verskyn op aanklag van strafbare manslag.
Tom het geen beserings in die botsing opgedoen nie.
‘n Volledige berig oor die traumatiese gebeure sal Donderdag in Weslander verskyn.





