Konst. Amelia Kruger hou Mali vas, terwyl Lindie de Wet, ’n inwoner wat dié polisiehond help opspoor het, breed glimlag.Foto: SAPD


Mali, ’n tweejarige polisiehond van die Weskus, is Saterdag (22 Julie) met behulp van ’n lid van die publiek teruggevind ná ’n uitgebreide soektog. Hy het Saterdagoggend (22 Julie) vroeg weggehardloop nadat ’n voertuig hom tydens ’n soektog na ’n verdagte raakgery het.

Danksy Lindie de Wet van Vredenburg se omgee en insig om te rapporteer dat sy Mali naby die Weskus Mall gesien het, het die hond se hanteerder, konst. Amelia Kruger (29), en haar kollegas uiteindelik die beseerde hond onder digte bosse gekry.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, was lede van die Weskus K9-honde-eenheid omstreeks 02:00 die nag besig om inligting op te volg oor ’n jong verdagte wat vroeër dié aand by ’n huis in Tierkloof ingebreek het.

Die polisielede het met hul indraai in Bergstraat die verdagte met die blou-en-wit-kappietrui, grys denim en rooi pet, soos aan hulle deurgegee is, gewaar. Hy het ’n lang stok laat val, maar met ’n sak vol vermoedelik gesteelde goedere begin weghardloop.

Kruger het hom drie keer gewaarsku om stil te staan. Hy het egter aanhou hardloop waarop Mali vrygelaat is om hom aan te keer.

Terwyl Mali egter om ’n draai agter die verdagte aangehardloop het, het ’n voertuig hom raakgery.

Mali het geskrik en weggehardloop. Kruger het verskeie pogings aangewend om hom te kry om terug te kom, maar vergeefs.

AO Johan van Eeden, Weskus K9-bystandsbeampte, het die plaaslike polisie, lede van die provinsiale K9-eenheid en die buurtwag gemobiliseer. Die provinsiale soek-en-reddingseenheid het met ’n helikopter, hommeltuie en spoorsnyers ook gehelp soek.

De Wet vertel dat sy en haar suster, Ilse van Wyk, net na 11:00 begin soek het. “Die polisiehelikopter het heeltyd om en oor ons huis gevlieg en ek het net gevoel ons moet gaan help.”

Hulle was eintlik al op die punt van opgee toe De Wet omstreeks 12:00 net ’n laaste keer om die dam op die koppie wou stap. Toe sien sy letterlik net Mali se rug bo die lang gras agter die Mall uitsteek. “Ek moet erken, ná almal afgery het om daar te soek, was ek nogals bang dat my oë my dalk bedrieg het.

Ek dink hulle kon my daar onder hoor gil van opgewondenheid toe hulle hom optel. Ek was bitter opgewonde toe ek hoor dat dit regtig hy is.”

Sy is net dankbaar dat sy kon help. “Ek het nogals die oggend so gevoel gehad dat ek hom gaan kry.”

Mali, met ’n beseerde been, is gratis in die Wesland-dierekliniek behandel.

Kruger het Weslander-lesers die versekering gegee dat Mali goed aansterk. “Mali is ’n brawe en liefdevolle hondjie en ’n baie goeie vennoot. Hy is weer sy lawwe self en speel graag met sy beertjies en balle.”

Sy bedank almal wat help soek het opreg.

Die twee van hulle het van Maart tot Mei vanjaar opleiding in Pretoria ontvang en is in Junie vanjaar ontplooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article