Reddingswerkers soek na ’n man wat Saterdag (29 Januarie) in die Doringbaai-hawe onder die water verdwyn het.Foto: NSRI


’n Man wat glo by ’n pier by die Doringsbaai-hawe afgespring en onder die water beland het, word steeds vermis.

Volgens Matthys Koch, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut in Lambertsbaai, het die NSRI Saterdagmiddag (29 Januarie) gereageer in verband met ’n polisieverslag oor ’n vermiste man by Doringbaai en met hul seereddingsboot, die Rescue 45, na die toneel gegaan.

Met die NSRI se aankoms het die bemanning die polisie bygestaan met ’n soektog na ’n man (37) van Loeriesfontein wat volgens ooggetuies onder die water verdwyn het en nie weer gesien is nie.

Volgens ooggetuies het die man van die pier af in die water gespring. Hy het aan ’n ankerketting van ’n boot vasgehou en omstanders het gesê dit het gelyk of hy daar rus voordat hy onder die water verdwyn het.

Ná ’n uitgebreide soektog na die man is steeds geen teken van hom gekry nie.

Die polisie se duikeenheid is steeds besig met ’n deurlopende soektog na die man, wat waarskynlik verdrink het.

“Ons dink met innige meegevoel aan die familie van die vermiste man in hierdie moeilike tyd,” het Koch gesê.

Vroeër in Januarie het die NSRI in Lambertsbaai ook hulp verleen ná die verdrinking van ’n man (53) van Middelburg by Skellemstrand in Doringbaai.

Volgens Koch is die man vermoedelik deur ’n sterk seestroom ingetrek nadat hy in vlak water deur ’n golf van sy voete af gevee is. Die man se liggaam het later uitgespoel.

Die Lambertsbaai-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.. Volgens raad wat die NSRI met swemmers op sy webtuiste deel, moet mense leer om seestrome te identifiseer en dan die swemplek te vermy.

Maar as vermyding misluk, moet die swemmer te alle tye kalm bly en probeer ontspan. Spaar energie deur nie teen die see te veg of teen die stroom te probeer terugswem nie. Die stroom sal jou nie onder die water intrek nie en mits die swemmer kalm bly, sal die stroom hom uiteindelik elders op die strand uitspoel.

Swem liefs omtrent 90 grade in die rigting waarin jy getrek word en gebruik dan die golwe om op die strand terug te kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article