Richard Smit, wat van die moord op sy vriendin aangekla word, bly in aanhouding.


Richard Smit, ’n polisieman van Piketberg wat daarvan aangekla word dat hy sy vriendin op 2 Januarie doodgeskiet het, sal weer volgende maand in die plaaslike landdroshof verskyn.

Smit was Dinsdag 17 Mei in die hofbanke om te hoor of borgtog moontlik aan hom toegestaan sal word. Verrigtinge kon egter nie op dié dag voortgaan nie aangesien die tolk ’n ander saak in Vredendal bygewoon het.

Smit, wat in die Piketberg-hof gewerk het, het weer op 3 Junie met sy verskyning in dieselfde hof gehoor hy sal in polisieaanhouding bly.

Die Strandfontein-gemeenskap was in April in rep en roer nadat Smith sy broer se adres in Strandfontein verskaf het as ’n moontlike adres waar hy kan tuisgaan as hy moontlik op borgtog vrygelaat word.

Volgens Sandy Schuter, voorsitter van die Strandfontein-gemeenskaps­polisiëringsforum, het die Strandfontein-gemeenskap ’n petisie begin om Smit se hervestiging in Strandfontein teen te staan.

Briewe van inwoners is by die hof ingedien, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), gesê.

Smit staan ??tereg op sewe aanklagte – die moord op Natasha Booise, twee aanklagte van poging tot moord op Roslin Kaaiman en Erin Plaatjies, die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare gebied, hantering van ’n vuurwapen onder die invloed van dwelms en twee aanklagte van aanranding.

Die Piketberg-polisie het vandeesweek aan Weslander bevestig die saak word op 4 Julie in die hof hervat.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article