Om foto’s en beeldmateriaal van verdagtes te deel, kan jou in groot moeilikheid laat beland, waarsku die polisie.
Die Langebaan-kantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het met kommer kennis geneem dat sosialemediagebruikers foto’s en soms selfs ook videomateriaal van gesoekte mense of verdagtes op sosialemediaplatforms versprei.
Die Langebaan-polisie versoek die publiek om hulle daarvan te weerhou om sulke foto’s of videomateriaal rond te stuur. Die polisie herinner die publiek ook daaraan dat hulle negatiewe gevolge kan ly vir diegene wat hulle aan die sirkulasie van sulke foto’s of videomateriaal skuldig maak.
Artikel 69 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (Wet 68 van 1995, soos gewysig in 1997), bepaal die volgende:. 69 (2) Niemand mag sonder die skriftelike toestemming van die nasionale of provinsiale kommissaris ’n foto of skets van ’n persoon publiseer nie –
(a) wat daarvan verdink word dat hy ’n misdryf gepleeg het en wat in aanhouding is hangende ’n besluit om strafregtelike verrigtinge teen hom of haar in te stel;
(b) wat in aanhouding is hangende die aanvang van strafregtelike verrigtinge waarin hy of sy ’n beskuldigde is; of
(c) wat ’n getuie in strafregtelike verrigtinge is of redelikerwys verwag kan word om ’n getuie te wees en wat in aanhouding is hangende die aanvang van sy of haar getuienis in sodanige verrigtinge.
Volgens Artikel 35(3) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, het “elke beskuldigde die reg op ’n regverdige verhoor”. Die publikasie of sirkulasie van sulke foto’s en videomateriaal kan ondersoeke ernstig belemmer of in die gedrang bring, die verhoor onbillik maak en tot vryspraak of terugtrekking van die aanklagte lei.
Die Langebaan-polisie doen ’n beroep op samewerking van die publiek in hierdie verband en bystand en samewerking van mense wat as “admin” op sosiale mediagroepe aangestel is.
Die Langebaan-polisie herhaal dat hierdie kennisgewing nie bedoel is om as ’n intimidasietaktiek te dien nie, maar bloot om die gemeenskap van hierdie inligting te voorsien en om die moontlikheid te beperk dat sake in die hof teruggetrek of vrygespreek kan word.
Mense met inligting oor misdaad wat gepleeg word of misdaad wat reeds gepleeg is, insluitend foto’s en videomateriaal van mense wat moontlik by die pleging van die misdade betrokke is, word versoek om die Langebaan-polisie by 022 707 5140 te skakel of e-pos te stuur na WhittonK@saps.gov .za, LangebaanSAPS@saps.gov.za of langebaan.cid@saps.gov.za.



