Na aanleiding van twee gewelddadige aanvalle die afgelope tyd – een by Aurora en een by Piket-Bo-Berg – doen die polisie ’n beroep op Weskussers om mense se geskiedenis na te gaan voordat hulle iemand in diens neem.

Pierre en Belinda de Kock is vermoedelik Vrydag 2 Junie grusaam op hul plaas Holvlei naby Aurora aangeval en vermoor. Die polisie is nog op soek na die verdagtes, en niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie. Belanghebbendes beweer drie werkers het sedert die voorval nog nie weer na die plaas teruggekeer nie, maar die polisie kon nog nie dié beweringe bevestig nie.

Minder as twee weke vóór die voorval, op Maandag 22 Mei, het gewapende aanvallers ’n plaaswerker op die plaas Achtervlei in die Piket-Bo-Berg-gebied by die huis waar die manlike werkers tuisgaan, doodgeskiet en ’n ander een gewond. Albei is burgers van Lesotho. Niemand is ook nog in verband met dié moord in hegtenis geneem nie.

Albei voorvalle word deur provinsiale polisiespeurders van onderskeidelik die eenheid vir georganiseerde misdaad en die eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad ondersoek.

Helfrich benadruk dat veral plaas- en sake-eienaars moet seker maak wie hulle in diens neem.

Genl.-maj. William Dyantyi, die Weskus-distrikskommissaris, het ’n dringende pleidooi gerig dat Weskussers volledige besonderhede van hul plaaswerkers, werkers by sakeondernemings en selfs in huise moet kry.

“Kostes én tyd is daaraan verbonde om sekerheidsklarings deur die polisie te bekom, maar dit is die regte ding om te doen,” het Helfrich gesê.

Die volgende inligting is uiters belangrik:. ’n afskrif van die werker se identiteitsdokument;. verwysings van vorige werkgewers;. kontaknommers van familie- en gesinslede en hul residensiële besonderhede; en. besonderhede van werkers se voertuie.

Hierdie inligting stel die polisie in staat om verdagtes vinnig aan te keer indien ’n misdaad deur werkers gepleeg word.

’n Boer van Porterville moes op die harde manier leer en het onlangs in die landdroshof in die dorp verskyn nadat hy skuld erken het op aanklag dat hy ’n verbode immigrant in sy diens gehad het.

Volgens Helfrich is die polisie se landelike veiligheidskoördineerders (rural safety coordinators) daar om plaaseienaars te alle tye behulpsaam te wees, terwyl sake-eienaars en gewone huishoudings met hul sektorbevelvoerders (sector commanders) daaroor in verbinding kan tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article