Die Darling-polisie het Dinsdagaand op ’n vuurwapen beslag gelê.
Hierdie wapen word vermoedelik verbind met drie voorvalle waarin ’n vuurwapen gebruik is om op mense te skiet.
Volgens sers. Johnatan Filander, woordvoerder van Darling-polisie, het die polisie inligting ontvang oor ’n ongelisensieerde vuurwapen en dwelms wat in ’n huis op die dorp versteek word.
Filander sê polisiebeamptes het die inligting opgevolg en is vroeg Dinsdagaand 29 Maart na ’n huis in 7de Laan waar die vuurwapen en 59 Mandrax-tablette in ’n swart baadjie in ’n vrou se klerekas weggesteek was.
Die vuurwapen is ’n .38 Special-Astra-rewolwer waarvan die reeksnommer verwyder is.
’n Jong vrou (20) is in verband met die onwettige besit van die vuurwapen en dwelms in hegtenis geneem.
Volgens Filander lyk dit of die vrou gebruik is om die rewolwer en tablette vermoedelik vir iemand anders weg te steek.
Hy sê haar ouers was duidelik onbewus van wat in hul dogter se slaapkamer weggesteek was toe die polisie Dinsdagaand die klopjag uitgevoer het. Sy het, nadat die vonds ontdek is, die polisie gesmeek om nie haar ouers daarvan te vertel nie.
Sy is Woensdag aangekla en sou vandag (Donderdag) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Die polisie is besig om inligting op te volg en sal moontlik binnekort nog verdagtes in hegtenis neem.
Filander sê die vuurwapen wat gevind is, word moontlik verbind met drie ander poging tot moord-sake wat tans ondersoek word.
Die rewolwer is Woensdag deur die forensiese ondersoekbeampte na die laboratorium vir verdere ondersoek geneem waarna die oorspronklike eienaar van die wapen ook heel waarskynlik opgespoor sal kan word.
“Ons beskou hierdie vonds as ’n groot sukses en die polisiebeamptes wat hierby betrokke was, word vir hul flink optrede geprys,” het Filander gesê.




